Vrou bly soek byna jaar ná hond verdwyn

Lila is al vir tien maande lank vermis. (Foto: Facebook)

Toe Marise du Randt se geliefde Lila, ʼn Rhodesiese rifrug, tien maande gelede van hul kleinhoewe in De Wildt in Noordwes vermis geraak het, het sy onmiddellik na haar hondekind begin soek – en sedertdien net nooit weer opgehou nie.

“Ek kan nie ophou soek nie, want ek weet sy is nog daar buite. Ek voel dit in my hart. Ek wéét ek gaan haar nog kry,” sê Du Randt.

Sy steur haar min aan doemprofete wat meen dis ʼn hopelose saak en dat die sewejarige Lila nie weer gevind sal word nie. “Ek is positief ek gaan haar nog kry. Dalk nie vandag nie, dalk nie môre nie. Maar die dag gaan kom dat ek haar gaan vind.”

Du Randt vertel sy het op Sondag 26 Augustus verlede jaar by haar ouers gaan kuier en vir Lila en een van haar ander honde oudergewoonte buite die huis gelos. “Ons bly op ʼn groot omheinde erf op ʼn plaas, maar die honde was maar altyd buite die erf waar hulle in die veld rondgehardloop, apies gejaag en tussen die perde gespeel het. En hulle het nog altyd huis toe gekom, elke liewe keer vir sewe jaar.”

Marise du Randt met ‘n foto van haar geliefde Lila. (Foto: Facebook)

Toe Du Randt egter dié betrokke dag van haar ouers terugkeer, was Lila nêrens te sien nie. Haar ander hond het haar wel buite die huis ingewag.

“Ná sowat ʼn halfuur, toe Lila nog steeds nie teruggekom het huis toe nie, het ek bekommerd geraak en na haar begin soek,” sê sy. “Ek het ʼn boodskap op ons plaaslike buurtwaggroep gestuur en gevra dat mense op die uitkyk moet wees vir Lila.

“Ons het die hele gebied gefynkam, langs al die lyndrade gestap om te kyk of sy nie dalk in ʼn strik beland het nie en net oral moontlik gesoek. Ons het gesoek en gesoek tot dit donker geraak het, maar daar was geen teken van haar nie.”

Du Randt sê sy het in die dae daarna begin om ʼn 10 km-radius om die plaas te deursoek en het oral pamflette met foto’s van Lila uitgedeel. In die maande net ná Lila se verdwyning het sy baie leidrade ontvang van mense wat meen hulle het haar gesien.

“Ons het leidrade ontvang van mense in die Schoemansville-gebied, by Kosmos, al die pad tot by De Kroon. Elke keer as ons ʼn leidraad ontvang het, het ons dadelik gery en daar gaan soek.”

Sy vertel die leidrade het egter later opgedroog. “Ek vermoed iemand het haar dalk opgelaai en dat sy nou by iemand bly en dít is hoekom mense haar nie meer opmerk nie,” verduidelik sy.

Lila is ʼn opregte Rhodesiese rifrug met ʼn donkerrooi/bruin kleur. (Foto: Facebook)

Du Randt het ook die hulp van verskeie dierekommunikeerders ingeroep om Lila te probeer opspoor en het al die leidrade wat sy hieruit gekry het ook opgevolg. Sy het kennisgewings in koerante geplaas, pamflette in openbare plekke aangebring, inligting op sosiale media versprei en selfs ʼn Facebook-blad begin wat spesifiek aan die soektog na Lila toegewy is.

Sy het ook ʼn groot beloning uitgeloof vir enige inligting wat haar kan help om Lila op te spoor, elke moontlike diereskuiling genader, ʼn hommeltuig ingespan en kennisgewingborde langs paaie in die gebied opgesit.

“Ek weet nie of Lila by iemand is wat dalk nie weet dat haar eienaar nog na haar soek nie. Ek hoop dat wie ook al haar het mooi na haar kyk. Maar dalk is dit maar net hoe God se plan hiermee werk – die regte mens moet net op die regte tyd haar foto sien sodat ons haar weer kan kry.”

Intussen droom Du Randt oor die dag dat Lila weer kan terugkeer huis toe. “Die huis is leeg sonder haar. My diere is my alles, al vandat ek kan onthou, en my honde deel van my huishouding. Ek kan ook sien dat al my ander honde emosioneel bietjie anders is vandat Lila weg is. Sy was altyd die groepleier onder hulle en haar verdwyning raak hulle ook. Maar ek hou aan hoop – hoop is waaraan ek nou vashou.”

Lila is ʼn opregte Rhodesiese rifrug met ʼn donkerrooi/bruin kleur, ʼn wit kol op haar bors en wit op die tone van haar agterpote. Sy is met ʼn mikroskyfie gemerk en het ʼn rooi-en-swart halsband met haar naam op aangehad toe sy weggeraak het. Indien enigiemand weet waar Lila dalk mag wees, skakel 078 270 1381 of 072 216 3456.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Andre ·

Dit is baie hartseer….hoop en vertrou dat jy haar sal kry .Hulle kruip diep in n mens se hart.

fred ·

ek hoop van harte jy kry haar terug…n rifrug is n baie goeie getrouwe hond,ideaal vir n plaas maar is ook lief vir jag ….daarom loop hulle soms ver weg….het self één gehad maar gepik deur n swart mamba…sterkte

Simpatie ·

Lila is so pragtig. Kan net hoop dat as sy by mense is, hulle mooi kyk na haar. Dis erg om nie te weet nie.

Johanna ·

My hart huil saam met jou. Erg om ‘n honed-kind op so ‘n manier te verloor. Ek sal saam met jou bly hoop dat jy Lila gaan terugkry.

Natasha ·

Ons volg haar storie al van dag een af, dis sooooooo hartseer – sy verdien om haar Lila terug te kry…..

elizabeth ·

dis erg om nie te weet waar jou geliefde dier is nie. Ek hoop dat jy haar gou sal vind en ek dink ook dat iemand haar het maar nog net nie die advertensie gesien het nie

Sunette ·

Ai man ek hoop regtig jy kry haar en as sy by iemand is hulle jou berig sal lees en jou “baba” sal terug besorg. Kan net dink hoe jou hart moet voel. Ons ook so “baba”, mens se lewe draai omtrent om hulle. Hou ons op hoogte as die blye dag gebeur! Glo saam jou sy kom gou terug.

Chantel ·

Lila is pragtig…. Ek bid jy kry jou hondekind.

As hulle weg raak…. dis ‘n leemte wat jy vir niemand kan beskryf as jy nie self al daardeur is nie.

Baie Sterkte

nella ·

Jy moet bly glo. Dit het al gebeur dat mense se dierekinders na ñ lang tyd weer gekry word. Sterkte, ek dink aan jou.

Dhameer ·

Hoping for the best. Not sure how tracking works but it may worth a shot.

Lizelda ·

Wat n pragtige Lila. Hou aan soek en almal sal saam met jou soek. Ek bid en vertrou dat sy gevind sal word en dat die mense wat ek glo nou mooi na haar kyk sal sien hoe seer jou hart is. Ek het my kat wat weggeraak het toe ek as kind na n ander provinsie getrek het na n jaar weer gekry. Hou moed, aanhouer wen.

elsa ·

Ek sal ook nie tot rus kan kom as een van my honde wegraak nie. Alle voorsorg is getref maar ek vrees die dag dat dit ten spyte van alles dalk gebeur. Baie sterkte met die soektog – moenie ophou nie.

Sandy ·

Ek het ook nou die berig, en jou storie op my Facebook bladsy gedeel, Marise. Ek glo hoe meer mense deel, hoe gouer gaan sy gevind word. Voorspoed.

Mariné ·

Daar is nie iets meer tragies as n dier waarvoor jy só lief was wegraak nie, dit het onlangs met my ook gebeur en dit voel kompleet of iemand dood is. My hond is ook nog nie gevind nie , na 5 maande. Dit breek mens om heeldag met n twyfelende hart rond te loop. My gebede gaan uit met n swaar hart

Christien vd Westhuizen ·

Ek bid dat julle jul geliefde honde kinders sal vind dis soooooo hartseer sterkte

Chris ·

Dis hartseer, die feit dat die ander wel terug gekom het dui dalk daarop dat sy as veghond gevang is?

Johan Swart ·

My hond het na n jaar en n half terug gekeer huis toe….sy was toegemaak agter in n erf slegs 5 huise van my af in dieselfde buurt…sy het net nooit kans gekry om uit te kom nie.Hoop julle vind haar…hulle het oneindige deursettingsvermoë….

Skroef ·

Hoe weet jy nou waar sy was maar in 18maande het jy haar nie gaan haal nie?

J J Schoeman ·

As jong dienspligtige het my geliefde Boerboel weggeraak. Ek’t bly glo hy lewe nog en het selfs op kleinhoewes in ons buurdorp na hom gaan soek. Na my diensplig het ek begin werk en het die Desember saam ‘n munisipale amptenaar gery om ‘n inspeksie by ‘n woonhuis te gaan doen. Groot was my verbasing, dat na amper 18 maande, my geliefde Boel vir my blaf toe ons die erf betree…… Ek het hom dadelik in die ou Volksie van die munisipaliteit gedruk en huis toe geneem. So, as jy weet jou hond lewe, gaan jy aanhou soek.

dierevriend ·

Ek hoop sy kry Lila terug maar sy moet besef dat indien Lila nog leef gaan dit nie meer dieselfde Lila wees as wat sy onthou nie. Ek sou liewers hoop dat sy ‘n goeie nuwe eienaar gekry het en ek sou vir my ‘n nuwe brakkie aanskaf. Die lewe gaan aan en mens kan nie stilstaan by n pragtige hondevriend wat waarskynlik nie meer leef nie. Gaan DBV toe en red ‘n pragtige hond met ‘n seer hart en neem hom aan en noem die een ook Lila.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.