Vrou brand dood terwyl man, hond ontsnap

Die brand het vroegoggend in die egpaar se enkelbed-buitekamer in Môregloed, Pretoria, uitgebreek (Foto: Verskaf)

ʼn 46-jarige vrou van Pretoria is dood toe die buitekamer waarin sy en haar man gewoon het, Woensdagoggend aan die brand geslaan het. Die man en die egpaar se hond kon daarin slaag om betyds te ontsnap.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê die brand het vroegoggend in die egpaar se enkelbed-buitekamer in Môregloed, Pretoria, uitgebreek. Tshwane-nooddienste is om 06:08 na die huis ontbied.

Tshwane-nooddienste is om 06:08 na die huis ontbied (Foto: Verskaf)

“Met brandbestryders se aankoms op die toneel was die kamer heeltemal in vlamme gehul. Hulle het met twee brandweerwaens en twee nooddiensspanne die brand geblus,” vertel Mabaso.

“Die vrou se verkoolde liggaam is by die kamer se voordeur aangetref.”

Mabaso sê die man beweer sy vrou het wakker geword en ʼn aansteker gevra. Hy het glo vir haar die aansteker gegee en daarna weer geslaap. Hy het ʼn ruk later wakker geskrik en besef die kamer brand.

“Die man het klaarblyklik met die egpaar se hond deur die agterdeur ontsnap. Volgens die man het hy gedink sy vrou is al buite.”

Mabaso sê die oorsaak van die brand word ondersoek.

Paramedici het die man op die toneel vir skok en moontlike rookinaseming behandel. Hy is daarna per ambulans na ʼn mediese fasiliteit vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sussa ·

ek en Tonja het saam gewerk haar man Christiaan is darm nou okay dit gaan goed met hom maar dis nogsteets baie hartseer oor wat gebeur het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.