Vrou brand glo kêrel ná sy hom eers probeer ‘vergiftig’

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 64-jarige vrou van Klerksdorp in Noordwes is in hegtenis geneem op aanklag van moord nadat sy haar kêrel glo probeer vergiftig het voordat sy hom na bewering aan die brand gesteek het.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Dinsdagaand omstreeks 19:00 in Kanana plaasgevind. Die vrou het glo vroeër na ʼn tradisionele geneesheer gegaan en hom gevra vir ʼn middel waarmee sy haar vriend kan vergiftig. Die geneesheer het niks vir die vrou gegee nie, maar haar gevra om later terug te kom.

“Daar word beweer dat die vrou huis toe gegaan het en haar kêrel probeer vergiftig het,” het Moleko gesê. “Hy was egter nie dood nie, maar slegs bewusteloos van die gif en daarom het sy hom aan die brand gesteek. Die vrou het die man se liggaam daarna in ʼn plastieksak gesit en hom in die motorhuis versteek.”

Volgens Moleko het die vrou die tradisionele geneesheer gebel en gesê sy het vervoer nodig om die liggaam by die rivier te gaan stort. “Die geneesheer het die polisie in kennis gestel en die vrou is in hegtenis geneem,” het sy gesê.

Moleko het gesê die vrou wil geen inligting vir die polisie gee nie en beweer dat sy nie weet wat haar kêrel se van was of hoe oud hy was nie. Daar word vermoed dat hy ʼn Namibiër was. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word.

Die vrou sal Donderdag in die Orkney-landdroshof verskyn op ʼn aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PURE BOER ·

Haar kos was nie lekker nie en sy kon nie die kommentaar vat nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.