Vrou by Bfn-winkelsentrum ontvoer, beroof

Argieffoto: https://pixabay.com

Argieffoto: https://pixabay.com

Die Bloemfonteinse polisie is steeds op die spoor van ʼn verdagte wat ʼn vrou in die parkeerterrein van ʼn plaaslike winkelsentrum ontvoer en later beroof het.

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, het gesê die 46-jarige vrou is omstreeks 11:00 Maandag by die skouterrein in Curielaan deur die verdagte genader terwyl sy in haar motor gesit het. Die man het ʼn vuurwapen op haar gerig en haar beveel om R5 000 aan hom te oorhandig.

“Die verdagte het haar gedwing om na die Kenilworth-sentrum in Mangaung te ry terwyl hy heelpad sy vuurwapen op haar gerig het,” het Marope gesê. “ʼn Paar kilometer van hul bestemming af, het die rower haar gedwing om langs die pad stil te hou. Hy het haar hande met ʼn plastiektou vasgebind en haar beveel om agter in die motor in te klim.”

Volgens Marope het die rower se makkers hulle by die Kenilworth-sentrum ontmoet en hulle het die vrou se bankkaart gebruik om geld uit haar rekening te trek. Daarna het hulle op die vlug geslaan en die vrou alleen in haar motor agtergelaat. Sy kon daarin slaag om haar hande los te wikkel en die polisie is ontbied.

Marope het gesê ʼn saak van ontvoering en roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, word gevra om die Parkweg-polisiestasie by 051 507 6000 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

tw ·

Genade, wat gaan aan in Bloemfontein? Dit raak al hoe erger by die dag. Wat het van ons land geword waar jy nog rustig in die aand gaan stap het, vrylik in die stad kon rond beweeg en veilig in jou huis kon slaap? Dit is so hartseer om te weet vandag se kinders sal nooit die vryheid smaak wat ek as kind kon beleef nie.

Jan maak n plan ·

Baie bly om te hoor dat die vrou nou weer veilig is. Wat van die cctv kameras by die otm waar die geld getrek is. Sit die maatjies se bakkies op sosiale media en dan is sy doppie vinnig geklink.

Theresa ·

Die gesig van so iemand moet landwyd vertoon word, sodat mens op die uitkyk kan wees vir die skelm(s). En waar dit by ‘n sentrum gebeur, moet die hele parkeerterrein en ingang vol wees van die gesig(te).

m ·

Daai deel is nogals n probleem area en jy moet ook nie eers geld trek by daai tellers nie want jou kaart word gekloon.

ella ·

Ronnie, dis Curielaan, ek weet nie hoekom almal dit Currielaan spel nie. Madame Curie is vernoem…

Landi Slatter ·

Dagsê Ronnie,

Dankie vir jou terugvoer. Dit moet inderdaad Curielaan wees. Ons het die berig gewysig om verwarring uit te skakel.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.