Vrou by kassiere in bank vermoor

Helen Jansen van Vuuren by haar man Corrie. Foto: Facebook.

ʼn Vrou (61) is Dinsdagoggend in ʼn bank in Douglas in die Noord-Kaap ten aanskoue van ander kliënte en personeel vermoor.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het bevestig ʼn 24-jarige verdagte is later Dinsdagmiddag in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Volgens Kock het Helen Jansen van Vuuren omstreeks 08:30 vanaf haar werksplek, wat in die dieselfde sentrum as die Absa-tak is, gestap om geld te deponeer. Kock wou nie die presiese bedrag bevestig nie, maar sê dat dit ʼn “groot” bedrag was.

“Die vrou was binne die bank in die ry by die kassier toe die man van agter kom en haar na bewering drie keer met ʼn mes gesteek het,” het Kock gesê. Jansen van Vuuren is op die toneel oorlede.

Die man, geklee in ʼn oranje oorpak, sonbril, handskoene en ʼn sweetpaktop met ʼn kappie, het daarna met die geld van die toneel gevlug. Die polisie is onmiddellik na die toneel ontbied.

ʼn Foto van hom word intussen op sosiale media versprei.

Volgens Kock wil die polisie in dié stadium nie té veel inligting oor die ondersoek bekend maak nie. Hy het wel gesê klere wat vermoedelik aan die verdagte behoort, is “langs die pad” opgetel.

Die man wat vermoedelik die vrou vermoor het. Foto: Verskaf.

Die verdagte is omstreeks 15:00 in Breipaal in Douglas vasgetrek. “Hy is sommer in die pad in hegtenis geneem. Daar is kontant en ʼn sak klere by sy huis aangetref. Ons vermoed in dié stadium dat dit van die geld kon wees wat hy geroof het, maar die polisie ondersoek dit nog. Al die geld was nie daar nie,” het Kock gesê.

Wynand Boshoff, provinsiale leier van die VF Plus in die Noord-Kaap, het intussen gesê die beeldmateriaal van die man moet as wekroep dien vir almal in Suid-Afrika oor die omvang van geweldsmisdaad en om te alle tye waaksaam te wees.

“Douglas, wat onder meer die hoofkantoor van die landwye GWK-landboumaatskappy huisves, is een van die mees vooruitstrewende dorpe in die Noord-Kaap. Dit is as ʼn veilige en vreedsame omgewing bekend. Die VF Plus sal die betrokke bank om antwoorde nader aangesien dit moeilik is om te begryp hoe dit vir die rower moontlik was om met ʼn mes en bedekte gesig in die bank rond te beweeg,” het Boshoff gesê.

Die party het sy medelye met Jansen van Vuuren se gesin en naasbestaandes betuig.

Die verdagte sal Donderdag in die Douglas-landdroshof verskyn op aanklag van moord en gewapende roof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

58 Kommentare

Hoodie ·

Minister Sisulu het gese ons het NIKS om te vrees in SA Nie, niemand hoef vir hulle lewens te vrees nie hier is net wetsgehoorsame burgers in SA en ‘n puik polisiediens wat die belhamels VASVAT … nou KAN ons asb hierdie berig vir MEV MAY ook stuur en vir al die ander liberale wat glo mense is VEILIG in SA .. en ontken dat daar ‘n aanslag op blankes is .. BAIE SIMPATIE aan haar naasbestaandes, die banke is altyd so op sekuriteit net totdat ‘n witvrou doodgesteek word . dan is alles fine .. HOEKOM IS HY MET “N HOODIE IN DIE BANK TOEGELAAT???

Stuiwer ·

Hoodie, ek dink dis verkeerd om net te aanvaar dat sy aangeval is omdat sy wit is. Sy is aangeval omdat sy BAIE geld by haar gehad het.

Albie ·

Stem saam dit het gegaan om die geld en nie omdat sy wit is nie. Dink dit sou ook gebeur het as die persoon wat die geld moes deponeer van n ander kleur was. In die foto wat vrygestel is van die aanvaller lyk hy vir my maar witterig.

Jollie ·

Sal graag wil weet waar die bank se sekuriteitswagte was!!!!!!!

Sekuriteit? ·

Meeste banke het metaal-verklikkers waardeur jy moet stap – is daar nie opgetel dat hy ‘n mes by hom het nie? Hier moet ‘n ordentlike ondersoek gedoen word na die bank se sekuriteit want dis heeltemal onaanvaarbaar! En dan nog “suspect” met die hoodie – hierdie moord was voorkombaar! So jammer vir die familie.

liefie ·

RIV mev. Jansen van Vuuren. Het die bank nie sekuriteitswagte nie?

Ronel ·

ABSA sal seker vir jou sê – soos hulle 16 jaar gelede aan my ma genoem het – dat die sekuriteit daar is om hul eiendom en nie die kliënt nie, te beskerm.
DIe hoodie in die bank? my 10 jarige seun is eendag gevra om die hoodie af te haal aangesien dit ‘n sekuriteitsrisiko inhou? hy’t langs my gestaan met die hoodie halfpad oor sy koppie getrek…

Jdk ·

Moet net nie vir n MANDJIE vra by Clicks nie, dan is jy n rassis, maar blanke mense word vermoor agv hul velkleur en NIKS anders nie.

@ SAKI ·

Hoekom het hy dan nie die swart klient in die ry langsaan vermoor nie? Daar is mos nie net blanke kliente met geld in ‘n bank nie is daar?

Erica ·

Hoe het hy geweet sy het so ‘n groot bedrag geld by haar?? Dit is absoluut skokkend! Mag hy die swaarste straf denkbaar kry. Asb. mense jy stuur nie dame en veral nog ‘n ouer dame soos daardie bank toe nie, hulle is weerlose teikens.

Albie ·

Sy is definitief dopgehou en gevolg – geweet dat sy n groot bedrag geld by haar het.

Lou ·

@Saki, ek sien nie dat die swart en gekleurdes vermoor is nie, maar slegs die blanke. In SA gaan ALLES oor RAS.

Erica ·

Dit is verstommend hoe mense tekere gaan net omdat hulle dink hulle tenagekom is. Geen moeite is gedoen om seker te maak wat gesê is en geen redelikheid is getoon. Dit is nie meer goed genoeg vir ons as volk dat mens soos ‘n skobbejak tekere kan gaan net oor jou vel ‘n sekere kleur is nie. Die belaglikheid van wat tans in SA aan die gebeur is is net verstommend.

David ·

Ek dink die geld wat kort is, by die man wat in hegtenis geneem is, sal hulle by die sekuriteitswagte vind.

Karl ·

Waar kom jy vandaan? Mense, die security is daar vir die PERSEEL en nie vir JOU nie, wanneer gaan julle dit begin besef!

Racheltjie ·

VF wil by ABSA weet hoe persoon met vermomde gesig in die bank toegelaat word, maar dit is ‘n algemene verskynsel dat die mense (veral jeug) deesdae so aangetrek is!

Lienkie ·

Sies man, was dit nou nodig om hierdie pragtig vrou te vermoor? Hoekom nie net die geld vat nie? Mag hierdie moordenaar sy swaar verdiende straf kry. Sterkte aan haar familie en vriende.

Liekie ·

Liewe Hemel – dit klink soos ‘n toneel uit ‘n horror-movie uit!
Die duiwel is los daar buite.
Die bank MOET asb antwoorde gee !!
Arme vrou se naasbestaandes.
Baie jammer.

Sêmaarnet ·

Geen geld gaan haar ooit terug bring nie, die bank sal seker nog antwoord, dat jy gebruik hulle gebou op eie risko ook. My seuntjie het met sy spiderman bril en hoed by FNB in geloop en was gevra ons moet asb verwyder, nou my vraag wat gaan ‘n 2 jarige seuntjie nou aan jaag? Maar ABSA toe laat ‘n volwasse mens om so in te gaan. Op hulle borde wys dit, jy maag nie op die foon, geen helmets, geen brille en en en nie.

Vee ·

Ek was self jare n werknemer by n Bank …..
Daar was soveel sekuriteit dat dit selfs moeilik vir my was om in te gaan by deure sonder my Tag. Hoe op aarde het hy so vinnig by die swaai deure uitbeweeg sonder dat iemand hom gestop het? Hy is behoorlik vermom en dit IS VERDAG opsigself, so hoe het die sekuriteit nie dit opgelet en alarm gemaak terwyl hy binne was nie. Die deure kon hul summier gesluit het en hy sou binne vasgekeer wees het . . . wat ook n wesenlike probleem kon geskep het met hom as enigste gewapende persoon met mes. Maar dis mos hoekom daar sekuriteit is. . .
Die feit dat die Man so vermom was , spel mos uit dat dit beplan was, goed beplan!
Mag die bank haar familie of gesin vergoed vir hul nalatigheid as dit bewys word.

Anni ·

Ek sal my kop op ‘n blok sit, dat hy het hulp van binne die bank gehad.

Ronel ·

Dit is darem regtig verskriklik!!
Ek was seker so maand gelede “verplig” om in Absa in te gaan – Wilkoppies, Klerksdorp. Ek ht my ontsteltenis oor di gebrek aan sekuriteit nog teenoor di teller uitgespreek. Wat my verder ook opgeval ht, is dat enige persoon op sy selfoon kan praat en tik na hartelus!! En daardi tak se tellers is ni eens agter glas ni – hulle is oop!!!!
As ek, wat hopelik ni ‘n criminal mind ht nie, sit en dink dat almal in daardi bank sitting ducks is, hoeveel te meer dink di kriminele dit. Ek weet ni of ek weer daar wil ingaan nie!!!

Ou Ontstelde Erdvark ·

Waarom het die krimineel nie net eenvoudig die geld gegryp en weggehardloop nie? Is ‘n menselewe dan nou so min werd?
En waarom het die ander kliënte en bankpersoneel nie saamgestaan en die moordenaar vasgetrek nie?
Die Suid-Afrikaanse nasie is tot in sy wese met die kanker van wetloosheid besmet. Ek wil nie meer ‘n Suid-Afrikaner genoem word nie.

Petro ·

ons hele dorp is verbysterd. Dit voel soos n stille weerloosheid oral. Dis nie alleen die bank se skuld nie, nr 1 dit was bogemiddeld koud gister en die mens het dik aangetrek gelyk. 2. Die bankbestuurder self het deur baie dinge gegaan om te help. syt fisies bo op Tannie Helen gele om die bloed te keer. In ons dorpie neem niemand mekaar kwalik nie, almal het seer. almal is stukkend! Sy was vir baie soos n ma! Vir alle rasse en mense of jy nou skatryk of brand arm was sy het omgegee. En in hierdie stukkende slegte wereld, was haar soort nodig!

LeeLee ·

Petro, en Tannie Helen se familie. Ek huil saam met julle. Ek is so jammer dat iets so onmenslik met iemand so spesiaal moes gebeur. Rus sug Tannie.

Anoniem ·

Indien sy die werkgewer se geld gaan bank het, word hierdie as ‘n “besering” (dood) aan diens beskou? Wat sê die wetsmanne?

El ·

As dit besigheids geld was is dit besering op diens. Iemand van werk het geweet en iemand afgetip?

Nettie ·

Arme vrou …… innige simpatie aan haar naasbestaandes en vriende.

“Stupid” moordenaar egter – as jy nou régtig skotvry wou kom, moenie wag tot jou slagoffer ín die bank is nie – jy het veel beter “wegkomkans” as jy sou aanval terwyl jou slagoffer oppad was bank toe – die meeste winkelsentrums se “CCTV” is van só ‘n swak standaard dat geen ID moontlik sou wees nie, maar in banke is dit ‘n ander saak ……….

Dougie ·

Hulle het haar probeer help. Daar was niks wat gedoen kon word nie. Voor haar dogter van reg langs die bank by spar kon omgaan was sy alreeds dood. Hy het ook met geen waarskuwing aangeval. Eers gesteek en toe gegryp. Daar was amper geen mense in die bank die oggend nie. Die bank het net oopgemaak.

Die hele gemeenskap het hande gevat om na die moordenaar te soek. En hy is op die ou end gekry.

Andre ·

Waarom n vrou stuur om te bank sonder manlike beskerming ? Seker omdat dit so n “veilige ” plek is. Is daar so iets as n veilige plek ?

Penellope Jones ·

ORALoor, enige plek, enige tyd word misdaad gepleeg op welke manier dit ‘n krimineel pas.
Die regering ~
Hoor niks.
Sien niks.
Ignoreer misdaad.
Bly tjoepstil.

Al wat vir hulle belangrik is, is mag, die verkiesing en om die land af te neem op enige manier wat hulle pas.

Hannelie ·

Penellope die regering slaap……… Hulle hiberneer al van ek kan onthou, ligte aan maar niemand tuis. So sal hul elke dag sien en hoor wat in hierdie land gebeur, maar absoluut niks doen nie. Lees die kabinet ministers ooit ‘n koerant?

VANESSA MOORE ·

Liewe aarde, dis nou ‘n plek waar mens moet veilig voel. ABSA skerp julle sekuriteit op. Ek sal dink dat dit nou ‘n plek is waar daar definitief opgeleide sekuriteit moet wees. Daar word daagliks met geld gewerk. Nee regtig.

Nita ·

Hierdie is ook n “inside job.” Hoe het hy presies geweet wie hy moet aanval om die geld af te vat. Talle besighede sit met die vrot appels in hulle midde, wat die inligting verskaf. Die seekat se tentakels is oral. Op lughawens, sodat mense agtervolg kan word. Selfs in die einste banke is daar persone wat inligting gee oor wie buite geteiken of agtervolg moet word, sodat hulle beroof kan word. Maar sal enige minister sy mond oopmaak en se hou onmiddellik op om kinders te he wat julle nie van n toekoms kan voorsien nie. En dan maak soos die Chinese en dit wettiglik afdwing. Die oormag van desperate werklose mense groei by die dag aan.

JoeV ·

Die onderskrif by die foto van ‘n kamera in die bank met man wat mes omhoog staan en lyk og hy iemand enige oomblik kan steek… “die man wat vermoedelik die vrou vermoor het” As mens nou aaname maak, hoeveel mans was daar gister in die bank wat met klapmusse en ‘n mes in die hand gestaan het?
Die onderskrif kon dalk lui “die verdagte in die moord van die vrou in die bank”

Sandy ·

Jong as sy die werk se geld gaan deponeer het, klink dit vir my soos ‘n inside job, want hoekom het hulle spesifiek haar geteiken.

Ja met al die banke se sekuriteit, is ons nerens veilig nie. Hoe op aarde het die ou met die masker, oranje klere en ‘n mes verby die sekuriteit gekom?

Mens kan seker bespiegel, maar op die einde van die dag is die vrou oorlede.

My innige simpatie met haar familie oor die groot verlies.

Hannelie ·

Ag nee ABSA. Ek is baie teleurgesteld in julle. Julle is indirek vir haar dood verantwoordelik. Want van wanneer af laat julle iemand met ‘n “hoodie” toe in die bank? En was die ander “bang” om haar te hulp te snel. Maar net toegekyk? My innige simpatie vir haar familie, ek gedink dit is ‘n boeregemeenskap, hulle moet mos saamstaan.

honourable member ·

Ja sure en almal kan hom nou baie mooi sien. Hoe loop so ding met n mussie en sonbrille in die bank rond en waar is die sekuriteit. Hoe het hy presies geweet dat sy so baie geld by haar het.

Hanna Hoekom ·

Inside job. No question. En nou is n pragtige vrou dood, afgemaai… Ek is siek en sat vir hierdie land. Wanneer begin iemand aan n TV reeks skryf getiteld “South Aftican Horror Story”? Die “American Horror Story” was net n storie, ons s’n sal gebasseer wees op WARE verhale.

Stuiwer ·

Waar was die sekuriteit? Hoe het die verdagte dit reggekry om in hierdie klere in die sentrum (en bank) in te gaan sonder dat iemand hom voorkeer.

Dee ·

Dis baie duidelik dat daar hulp van binne was. Sy het baie waarskynlik gereeld die geld gaan bank en het ‘n roetine gehad en die inligting is aan die moordenaar gegee. Dat hy so geleen hoegenaamd toegelaat is in die bank gaan my verstand te bowe! Gaan soek die geld wat kort by sy helpers binne in die bank.
My innige simpatie aan haar naasbestaandes.

Nel ·

Nee, die ironie is dat sy toevallig die betrokke oggend vir haar dogter, wie gewoonlik die geld bank, ingestaan het om bank toe te gaan.

R Burger ·

Sjoe! Die vrou staan in n ry BINNE IN DIE BANK tussen mense en die man kom weg!? Wat n skande vir Douglasbank se kliënte en kassiere wat daar was ASOOK die sogenaamde sekuriteit! Het almal maar op die man toegesak, het hy nie n kans gehad om weg te kom nie en dalk was die vrou se lewe dalk gered. Die so tragies. Sterkte vir die familie

Quentin ·

Hoekom haar steek? Hy kon mos net die sak gegryp het, was sy oogmerke nou roof of moord. Natuurlik maak dit ‘n verskil as dit in die hof kom sekerlik is daar ‘n verskil tussen ‘n klagte van roof met verswarende omstandighede en moord!

Poppie ·

Inside job. Nie van die bank se kant, maar van die werk. Op die end gaan dit nig uitkom dat die verdagte iemand ken wat saam die vrou werk.

Gesiena ·

Sit dit op fox news op twitter dat die wereld en Trump dit kan sien , die moorde is geweetenloos .

Jean ·

Inside job!
Iemand in daai bank weet iets….
siek siek wereld met erg siek mense…
R.i.V

IK ·

In 2005 was ek en my vrou in Amerika en het ook NASA besoek. Hier is van die strengste sekuriteit denkbaar. Tot selfs ‘n breekbare bottel of soortgelyk mag nie ingedra word. Die grap is dat jy hul plaaslike bier binne kan koop in ‘n glasbottel . . . !!??

anton ·

Ai mense, wanneer gaan julle dit besef dat 95% van sekuriteit by plekke, absoluut niks beteken nie!!!
Mense wat op hulle wil staat maak, leef in n droom wêreld.
Hulle is maar net daar om die gewete te sus en natuurlik vir die ”eye blind”
As die sap nie eers iets beteken nie, wat laat julle dink dat hulle iets beteken?

JAN ·

Die doodstraf is die oplossing en nie die probleem nie. Onteiening van lewe sonder vergoeding.
Want as mens se eiendom ,vrug van jou arbeid ontneem word , is daar niks om voor te lewe nie.

John ·

Die regering speel die hele tyd dat SA die vredevolste plek in die heelal is en geen woord van waarskuwing oor gevare wat nog aan misdadigers dat hul met hand en tand teegestaan sal word nie en ‘n voorbeeld stel deur dit te doen. Die polisie moet net lappoppe wees wat… mens weet sowaar nie wat nie… vals sertifikate stempel? Indien die mynstakers respek vir die polisie gehad het was die sterftes nul, maar hulle het soos impi’s die polisie bekruip en laasgenoemde met die beter wapens het die stryd gewen…. en wie ry nou aan die pen. Groot ellende wag want misdadigers buit situasies uit.

Koeksuster ·

Ek wonder net of het die betrokke bank dalk ‘n besigheids afdeling waar sy geld sou kon bank (as dit so baie was) agter geslote deure?

RIV

Gina ·

Hoe? Hoe? Hoe? In ‘n bank waar sekuriteit baie streng moet wees! Waarom het omstanders nie gekeer ? Paniekknoppies by kassiere? Unbelievable ! Skerp nalatigheid van die bank. Banke moet tog weet hulle is teikens vir rooftogte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.