Vrou ‘deurmekaar’ ná modelbaas haar glo verkrag

Dawie de Villiers (regs) en sy regsverteenwoordiger Jacques Pienaar. Foto: ANA

Dawie de Villiers (regs) en sy regsverteenwoordiger Jacques Pienaar. Foto: ANA

ʼn 20-jarige vrou wat Dawie de Villiers (35), die modelagentskap-eienaar van Kemptonpark, van verkragting beskuldig, het Donderdag gesê sy het deurmekaar geraak met die plek waar die verkragting plaasgevind het omdat sy wou gehad het “dit moet weggaan”.

Die vrou is deur De Villiers se regsverteenwoordiger, advokaat Jacques Pienaar, onder kruisverhoor geneem in die Johannesburgse hooggeregshof toe sy hierdie verrassende uitspraak gemaak het.

Die vrou het gesê sy het deurmekaar geraak met die plek waar sy verkrag is omdat sy nie ondervra wou word nie. “Ek wou gehad het die hele model-en-Dawie-kwessie moet weggaan,” het sy in trane gesê.

Boodskappe wat vanaf die Blackberry Messenger-platform verkry is van ʼn gesprek wat tussen De Villiers en ʼn man genaamd Deon plaasgevind het, is in die hof voorgelees. In die boodskappe word gesê dat die vrou verskeie kere deur De Villiers verkrag is. “Dawie het my net een keer verkrag, nie verskeie kere nie,” het die vrou gesê.

Pienaar het die verpakking van die Blackberry-slimfoon wat deur De Villiers gebruik is aan die hof gewys en gesê die boodskappe wat aan die hof voorgelê is, het nie van De Villiers af gekom nie, aangesien sy foon se PIN-kode verskil van die foon wat gebruik is om die boodskappe te stuur. Pienaar het aan die vrou gesê sy is slegs ʼn pion in ʼn speletjie wat deur iemand anders gespeel word.

“Jy word gebruik om ’n lokval vir Dawie te stel en hom skuldig te laat lyk,” het Pienaar gesê. Die vrou het geantwoord dat dit nie waar is nie. “Dit was Dawie [wat die boodskappe gestuur het], want hy is die enigste een wat weet ons het seks by sy huis gehad,” het sy gesê.

De Villiers staan tereg op 38 aanklagte, onder meer verkragting, seksuele aanranding, die besit van kinderpornografie, meineed en bedrog. Die saak gaan voort.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pop ·

Die saak is al so diep gesink daar is nie eers meer borrels op die oppervlak nie. Hoekom die aanklaer nie net staatsaak sluit weet ek nie. Wat se hulle van” hell has no fury “

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.