Vrou dood ná motor in Hartbeespoortdam beland

(Foto: NSRI)

Die liggaam van ʼn vrou is uit ʼn motor verwyder nadat dit in die Hartbeespoortdam in Noordwes beland het.

Volgens Arthur Crewe, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Hartbeespoortdam, is van sy lede omstreeks 15:20 Saterdag ontbied nadat verskeie ooggetuies alarm gemaak het oor ʼn motor wat gedeeltelik onder water in die dam was.

Reddingsvaartuie, NSRI-reddingswemmers en polisieduikers is ontplooi. Paramedici van Hartbeespoort Emergency Medical Services (HEMS) en die polisie is ook na die toneel tussen die damwal en die slangpark ontbied.

“Reddingswemmers en polisieduikers het ʼn vrou se liggaam uit die wrak verwyder,” het Crewe gesê. Die vrou was glo 39 jaar oud.

Kinderspeelgoed is in die motor gevind en daar is gevrees dat daar moontlik ook kinders in die motor was toe dit in die dam beland het. “ʼn Soektog is na nog insittendes van stapel gestuur, maar daar is later vasgestel dat die vrou alleen in die motor was.”

Volgens Crewe is dit in dié stadium onduidelik wat daartoe gelei het dat die motor in die water beland het.

Die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.