Vrou dood ná rooftog by sentrum in Centurion

(Foto: Netcare 911)

ʼn Vrou is dood nadat sy Donderdagoggend tydens ʼn gewapende rooftog by ʼn winkelsentrum in Centurion doodgeskiet is.

ʼn Groep gewapende mans het vanoggend by ʼn winkel in die Blue Valley Mall in The Reeds ingestorm, het brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, gesê.

“Die verdagtes het skote afgevuur en ʼn vrouewerknemer is gewond.”

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici was teen 09:24 op die toneel.

“Die 32-jarige vrou is in haar bolyf geskiet en was in ʼn kritieke toestand. Sy is na ʼn hospitaal gehaas vir dringende mediese sorg.”

Volgens Peters het die vrou egter intussen aan haar beserings beswyk.

Die onbekende hoeveelheid verdagtes het in drie voertuie, twee maroen motors waarvan een ʼn Nissan Almera was, en ʼn wit Toyota van die toneel gevlug. Volgens Peters het die verdagtes met ʼn aantal selfone, skootrekenaars en televisiestelle van die toneel gevlug.

“Ons het wenke ontvang en het ʼn grootskaalse soektog na die verdagtes van stapel gestuur.”

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die Wierdabrug-polisiestasie te kontak of Stop Misdaad by 08600 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna Botha ·

Nog altyd gedink die mall is nie veilig nie ! Karwagte oral wat rommel strooi en kamtig kyk ….

Bollie ·

Karwagte kyk vir niks, moet hul nie geld gee want hulle kan in elk geval niks doen sonder wapens nie, sluit jou stuurwiel, sluit die deur en bid dat die kar nog daar gaan wees as jy terug is en soos altyd, wees bewus

GL ·

Die “car guards” is deel van die probleem, as ek sien hoe party van ons so vriendelik met hulle is en gee hulle R20 skut ek net my kop, word wakker, dink julle regtig hulle pas jou kar op?

Gert van Wierdapark ·

Ons hoop dat hul wenke sal ontvang sodat die moordenaars ook hopelik uitgesnuffel en ge-elimineer kan word!!! ‘n Oog vir n oog en n tand vir n tand!!! “Finish en Klaar”

Ig ·

Feesseisoen is ommie draai, mense moet wegbly van sentrums af. Maak alternatiewe reelings om te koop wat jy nodig het of bewapen jouself van kop tot tone. Hulle voel niks vir enigiemand nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.