Vrou dood op kombuisvloer aangetref

[OPVOLG] Twee verdagtes is intussen in die Nyoni-gebied in hegtenis geneem in verband met Nomalungelo Mtungwa se moord. Mtungwa se bakkie is ook gevind. Die verdagtes, onderskeidelik 22 en 30 jaar oud, sal binnekort in die Hluhluwe-landdroshof verskyn.

misdaadtoneel

Argieffoto

Niemand is nog in hegtenis geneem nie nadat ʼn KwaZulu-Natalse vrou verlede week, moontlik ten aanskoue van haar geestelik versteurde suster en siek man, in haar huis vermoor is.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het in die Mduku-nedersetting in Hluhluwe gebeur.

Volgens Zwane het een van die inwoners Donderdag teen 18:15 gesien hoe ʼn geestelik versteurde vrou alleen in die pad stap. Omdat die vrou gewoonlik nie saans alleen buite is nie, het die man besluit om haar huis toe te neem.

“Hy het aan die voordeur geklop, maar niemand het oopgemaak nie. Hy en die vrou het die huis binnegegaan en haar suster, Nomalungelo Mtungwa (53), se liggaam op die kombuisvloer aangetref. Daar was ʼn tou om haar nek gebind,” het Zwane gesê.

Die vrou se liggaam was reeds gedeeltelik ontbind. Zwane het gesê die vrou se bure het die polisie ingelig dat die vrou se man saam met haar en die suster in die huis woon, maar dat hy ʼn beroerte gehad het en daarom nie kan loop of praat nie. Omdat die oorledene se suster geestelik versteurd is, kon sy ook nie aan die polisie sê wat gebeur het nie.

“Volgens die bure het die oorledene ʼn Isuzu-bakkie gehad wat gewoonlik in die motorhuis gestaan het, maar die voertuig was nêrens te vinde nie. Die oorledene se voertuigsleutels en selfoon word ook vermis,” het Zwane gesê.

Hy het ʼn beroep op die publiek gedoen om na vore te kom met enige inligting wat die polisie kan help om Mtungwa se moordenaar vas te trek. Inligting kan by kapt. Nkosinathi Mthethwa by 035 562 4300 of 082 459 1880 aangemeld word.

Sake van huisroof en moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kannaland ·

Wat n tragiese gebeurtenis! Wat nou van die arme oorlewendes?

Suzie ·

Baie erg. Kan my net indink hoe die verstandelik gestremde (?!) suster moes voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.