Vrou dood, verskeie beseer in N12-botsing

Die ongelukstoneel op die N12 buite Fochville. (Foto: ER24)

’n Trompop botsing op die N12 buite Fochville in Gauteng het Saterdag die lewe van ’n vrou geëis. Vyf ander mense, asook ’n baba, is tydens die voorval beseer.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die nooddienste het omstreeks 13:45 met hul aankoms op die toneel twee motorwrakke in die middel van die pad aangetref.

’n Ander nooddiens het in dié stadium reeds ’n eenjarige kind op die ongelukstoneel behandel, terwyl vyf volwassenes in die motorwrakke aangetref is.

’n Vrou het reeds aan haar beserings beswyk en is op die toneel dood verklaar.

’n Ander vrou en drie mans is gedurende die botsing kritiek beseer terwyl ’n vyfde volwassene matige beserings opgedoen het.

Die beseerdes in ’n kritieke toestand is op die toneel behandel voordat twee van hulle met helikopters na ’n hospitaal gevlieg is.

Die ander pasiënte is met ambulanse na nabygeleë hospitale vervoer vir mediese behandeling.

Die plaaslike owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.