Vrou doodgeskiet pas ná skolier sterf

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Vrou is in KwaZulu-Natal doodgeskiet net nadat sy in ʼn motorongeluk betrokke was waartydens ʼn skolier gesterf het.

Die provinsiale departement van samewerkende regering het in ʼn verklaring gesê twee van hul personeellede, ʼn man en ʼn vrou, het Vrydag deur Msinga in Ngome gery toe hulle in ʼn ongeluk betrokke was waartydens ʼn meisie gesterf het. Die staatsamptenare was op ʼn amptelike sakereis en het van Pietermaritzburg teruggekeer.

“Die twee persone het stilgehou en was nog in skok oor wat gebeur het. Hulle wou bystand lewer toe ʼn onbekende gewapende man op hulle afgestorm en hulle met geweld begin dreig het,” lui die verklaring. “Die manlike staatsamptenaar het weggehardloop, en die skieter het op hom losgebrand. Hy het ongedeerd gevlug. Die vrou, wat nog in die motor was, is op die toneel doodgeskiet.”

Volgens die departement is die skieter vermoedelik ʼn familielid van die skoolmeisie.

Nomusa Dube-Ncube, provinsiale LUR van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê die departement betuig sy meegevoel met die familie van die kind wat tydens die ongeluk gesterf het. “Ons veroordeel ook in dieselfde asem die moord op een van ons personeellede. Woorde kan nie beskryf hoe mens voel as mens moet dink aan die verlies wat diegene ly wat ʼn kind in ʼn motor ongeluk verloor het nie. Maar daar is ook nie woorde om te verstaan hoe ʼn ander persoon in reaksie vermoor kan word nie,” het Dube-Ncube gesê.

“Dit is ʼn vreeslike tragedie. Die afsterwe van die kind is baie hartseer, maar dit is net so erg dat ʼn weerlose vrou koelbloedig vermoor is, klaarblyklik in reaksie op die ongeluk. Ons innige meegevoel aan alle betrokke familielede.”

Die departement het wetstoepassers versoek om die dubbele tragedie dringend te ondersoek. Die departement versoek ook lede van die gemeenskap in Msinga om kalm te bly ná die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Eergistermiddag net na ete is ‘n leerling skuins voor ons woonstel deur ‘n bus omgery. Gelukkig het die leerling èn die busbestuurder dit oorleef.

Blinkmotor ·

Hoeveel keer moes die publiek al vra dat staatsamptenare stadim moet ry. Die gemeenskap raak moeg vir n regering wat roekeloos is en nie wette meer gehoorsaam nie.

Driekie ·

Kinders hardloop oor strate… Mense ry te vinnig… Ander mense loop met wapens en skiet. … So kan ons voortgaan met die lys….Waar is wet en orde??

Selfbeskikking ·

Die enigste manier om wet en orde te kry is deur selfbeskikking.

LB ·

Ons ry Donderdag in Centurion toe die motor voor ons skerp rem en uitswaai, ‘n jong skooldogter stap oor die pad besig om te text op haar selfoon sonder om links of regs te kyk en by geen voetoorgang in sig nie. Ten spyte van toeters en iemand wat op haar gil bly sy na die skermpie staar en steek lewend die pad oor! Dit is hoekom daar toenemend baie ongelukke is, mense is op hul selfone besig in die loop en terwyl hulle bestuur. Ons leef in ‘n gek land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.