Vrou, drie mans dood in huis aangetref

Argieffoto: Nico Strydom

Die polisie in Mthatha in die Oos-Kaap is op soek na leidrade wat kan lei tot die inhegtenisneming van ʼn groep verdagtes wat glo vroeër dié week verantwoordelik was vir die moord op ʼn vrou en drie mans.

Kapt. Dineo Koena, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het Woensdag omstreeks 21:00 plaasgevind.

Volgens Koena het die groep verdagtes binne een van die spoorweghuise in Napgenstraat op die slagoffers losgebrand.

“Daar word beweer dat die oorledenes in hul huis was toe die verdagtes toegang tot die huis verkry het en lukraak op hulle losgebrand het. Die vier oorledenes is op slag dood. Verder word ook beweer dat nóg mense saam met die slagoffers in die huis gewoon het, maar daarin geslaag het om uit een van die vensters te ontsnap toe die verdagtes toegeslaan het,” sê sy.

Koena sê die polisie ondersoek in dié stadium aanklagte van moord. Volgens haar is daar nog geen motief vir die moorde bekend nie.

Die polisie het beslag gelê op verskeie patrone en ʼn pistool wat op die toneel was. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Enigiemand met leidrade oor die voorval word versoek om die polisie se misdaadnoodlyn by 0860 010111 te skakel. Alle inligting word vertroulik hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoekom is dit nog steeds so dat selfs die SAPS NIE toegang tot enige misdaad slagoffer se selfoon kan kry sonder n hofbevel nie? Baie moorde en misdade sou baie gouer opgelos gewees het as die selfoon reuse begin saamwerk om inligting beskikbaar te maak wanneer ‘n misdaad plaasvind. Hulle kan jou foon “pin-point” en vir jou presies vertel wie, waar en waarheen jy gebel het….sodat hulle vir jou ‘n rekening kan stuur….maar as jy ‘n slagoffer se selfoon moet naspoor nadat ‘n verdagte dit gevat het…..dan wil hulle ‘n hofbevel hê? Dis niks minder as pateties nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.