Vrou eis glo skelm halfmiljoen van POF

Argieffoto: memyselfaneye (Pixabay)

Die Valke in Oos-Londen het ’n 48-jarige vrou in hegtenis geneem nadat sy jare gelede ’n bedrieglike eis teen die Padongelukkefonds (POF) ingedien het.

Nyameka Katshwa staan nou tereg op aanklag van bedrog.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, sê Katshwa het in Julie 2007 ’n eis teen die POF ingedien nadat haar man in ’n motorongeluk dood is.

Die POF vergoed die slagoffers van padongelukke vir verliese of skade wat deur die onregmatige bestuur van voertuie veroorsaak is. Die fonds se uitstaande betalings aan slagoffers beloop egter miljarde rande.

Katshwa het die eis namens haar stiefkinders, haar oorlede man se minderjarige kinders, ingedien. Katshwa is nié die kinders se voog nie en hulle het ná hul pa se dood by ander familielede gaan woon.

Die eis was suksesvol en ʼn bedrag van R514 000 is destyds aan Katshwa uitbetaal. Sy het na bewering egter nooit die geld op haar stiefkinders bestee nie, maar dit eerder self gebruik.

Die saak is intussen by die Valke aangemeld en Katshwa is Dinsdag in hegtenis geneem. Sy het reeds in ’n hof verskyn en is op waarskuwing vrygelaat.

Katshwa sal na verwagting weer op 13 April in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig die POF se laste het verlede jaar dié tyd op R324 miljard gestaan. Eise van nog R17,2 miljard is in daardie stadium afgehandel, maar kon weens kontantvloeiprobleme nie uitbetaal word nie.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het die skuld hiervoor op die stygende getal eise en die hoë administratiewe koste daarvan gepak. In die 2019-’20-boekjaar is 102 086 nuwe eise by die POF geregistreer en R17,2 miljard verskuldig aan eisers wat gemiddeld reeds vyf jaar lank wag vir hul eise om geskik te word.

Die fonds is ook nie in staat om sy skuld aan regsfirmas te betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Hierdie POF is die grootste klug en net n ander platform vir bedrog en korrupsie. Pleks hulle gebruik net n tiende van daai geld en maak paaie behoorlik reg en onderhou infrastruktuur. Dink nie eens helfte van daardie eise is werklik geldig nie

Baardman ·

Dit doen, want sy gaan mos nooit die geld terugbetaal nie

Racheltjie Debeer ·

Dalk moet die Valke eerder die administrateurs van die POF se geldake ondersoek! Dis 10@1 waar al die geld heen verdwyn het.

Boon ·

Daar is n verskriklike groot skroef los by die POF. Dis nie veronderstel om.n skema te wees om ryk te woord nie , maar net om om mense te help met die minimum bystander, en nie die maksimum nie
Tweedens maak regslui woekerwinste uit die fonds. In beide gevalle moet maksimum bydrae vashestel word deur wetgewing. Anders moet ons teruggasn na die ou gebruik dat alle motoreienaars verpligte derdeparty versekering moet uitnee. Die staat is nie n Vader Krismis nie.

Cecilia ·

POF is n klomp Bollie.
Ekt n klient gehad wat R4m uitbetaal is. Sy het amper niks in d ongeluk oorgekom nie.
Sy het net haar kar laat vervang deur haar versekering.
Om R4m te ontvang en jy is nie eers geskend of niks nie.

Moedeloos ·

Nou hoekom is die geld nie in n trust belê vir die minderjariges nie. Die persoon kan dan maandliks teen die trust geld eis met stawende dokumente hoekom die geld benodig word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.