Vrou en haar minnaar in hof oor lyk in vlak graf

'n Vlak graf. Argieffoto: SAPD

‘n Vlak graf. Argieffoto: SAPD

ʼn Vrou en haar minnaar het Maandag in die hof verskyn in verband met die moord op die vrou se man.

Fikile Mongwe (36) en Innocent Pilosa (21) het in die Moretele-landdroshof in Hammanskraal verskyn. Hulle word aangekla van die moord op Selaelo Lekalakala (61). Lekalakala was ʼn regeringsamptenaar en sou vanjaar aftree.

Mongwe is onlangs met Lekalakala getroud nadat sy as huishulp vir hom gewerk het ná sy vrou se dood in 2014. Volgens die polisie is Lekalakala op 30 Desember vermoor en het sy vrou hom op 16 Januarie as vermis aangemeld.

Kapt. Kay Makhubele, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn man wat glo gehelp het om die liggaam te begrawe het die polisie van die raaisel rondom Lekalakala se verdwyning ingelig.

Volgens die man het die vrou se kêrel, wat ook sy vriend is, hom op 31 Desember gebel en gevra om ʼn hoop vullis te verwyder. Hy het die paartjie gehelp om die lyk, wat in komberse toegedraai en in ʼn groot skottel was, te dra. Hulle het ʼn vlak graf gegrawe. Dit was egter nie diep genoeg nie en hulle het die volgende aand teruggekeer en die gat dieper gegrawe.

Volgens die man het hy eers die volgende aand besef dit is ʼn lyk wat hulle begrawe. Die man het intussen ʼn staatsgetuie geword. Die saak is tot 16 Februarie uitgestel wanneer die verdagtes na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vra net. ·

Berig is baie deurmekaar geskryf. Met wie is Mongwe nou eintlik getroud. Innocent Pilosa of Lekalakala

Landi Slatter ·

Dagsê Vra net.

Dankie vir jou navraag. Fikile Mongwe (36) en Innocent Pilosa (21) is minnaars. Hulle het in die Moretele-landdroshof in Hammanskraal verskyn en word aangekla van die moord op Selaelo Lekalakala (61). Soos in die berig vermeld was Mongwe met Lekalakala getroud.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Kaspaas ·

As n’ mens net na die ouderdoms verskille kyk(21 vs 61), dan voorspel dit alreeds moeilikheid.

Kiepie ·

Die oorledene was getroud met die 36-jarige, nie met die 21-jarige nie. Mens moet kophou hier maar dit is steeds ‘n groot ouderdomsverskil.

Loeis ·

Sjoe. Hy het nie geweet hy het ‘n lyk begrawe nie? Het hy dan regtig nie tyd gehad om ‘n beter verskoning as daai een uit te dink nie?

Hasie ·

Jy sal baie ryk word as jy ‘n medisyne kan uitvind vir domheid.

lw ·

Gierigheid (geld) die wortel van alle kwaad. Nou het jy niks nie, net n tronksel.

vra net wat ·

Verstom dat mense se die berig is deurmekaar geskryf…. ek het dadelik verstaan. die opskrif en eerste sin is mooi duidelik. En van daar af maak als sin. Is verstom dat mense Maroela onnodig kritiseer….Die vrou is glad nie meer so “innocent” nie en daarom is dit nie meer ” lekeleke” nie lol

Amandie van der Merwe ·

Daar word gesê Lekalakala het as huishulp by Mangwe gewerk? Maar tog word daar gesê sy was n regeringsamptenaar wat die jaar sou aftree? Ek is nog steeds in die war. Dan word daar gemeld dat “sy vrou hom as vermis aangemeld” …Nee magtig…..begin oor en skryf dit ordentlik!

Landi Slatter ·

Dagsê Amandie

Dankie vir jou terugvoer. Soos in die berig vermeld was Mongwe (die vrou) met Lekalakala getroud nadat sy as huishulp vir hom gewerk het ná sy vrou se dood in 2014. Volgens die polisie is Lekalakala (die man) op 30 Desember vermoor en het sy vrou (Mongwe) hom op 16 Januarie as vermis aangemeld.

Greoetnis
Landi nms Maroela Media

Lees reg ·

Daar is niks fout met berig. Lekalakala is die vermoorde. Mongwe sy vrou en Innocent was haar kerel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.