Vrou ernstig beseer in N1-ongeluk

Die ongeluk op die N1 naby Rigelrylaan. (Foto: Twitter/ITRAFFIC)

’n Vrou is Woensdagoggend per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg vervoer nadat sy in ’n motorongeluk op die N1 naby Rigelrylaan in die ooste van Pretoria betrokke was.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê ’n ander motoris het glo die 32-jarige vrou se motor teen die kant getref wat ’n verderebotsing veroorsaak het.

Die vrou het ernstige beserings in die voorval opgedoen. Sy is op die toneel gestabiliseer terwyl sy met hidrouliese toerusting uit die wrak van haar motor bevry is.

Volgens Herbst het die vrou glo ’n neurologiese besering opgedoen en sy in na Milpark-hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling. Die N1 is kort ná die ongeluk gesluit om plek te maak vir die helikopter om te land.

’n Trompop botsing in die omgewing van Sasolburg in die Vrystaat het intussen vanoggend die lewe van minstens sewe persone geëis.

Die ongelukstoneel op die Koppiespad (R82) in die omgewing van Sasolburg. (Foto: ER24)

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê ’n taxi en ’n vragmotor het reg van voor op die Koppiespad (R82) gebots.

Paramedici het voor 08:00 by hul aankoms op die toneel albei wrakke langs die pad aangetref. Verskeie pasiënte was in dié stadium in die wrak van die taxi vasgekeer.

Minstens sewe passasiers van die taxi is op die toneel dood verklaar, terwyl drie ander op die toneel behandel is. Een van dié beseerdes was in ʼn kritieke toestand.

Die beseerdes is na ’n nabygeleë hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

In Roodepoort, Gauteng, is nóg ses mense tydens ʼn botsing beseer. Twee motors, ’n motorfiets en twee voetgangers was in dié voorval in Florida Park betrokke.

Volgens Meiring het paramedici omstreeks 07:30 by hul aankoms op die toneel die motors en motorfiets in die pad aangetref.

Verskeie beseerdes het in dié stadium verspreid oor die toneel gelê, terwyl ’n ernstig beseerde vrou vasgekeer was in een van die motorwrakke. Dié motorwrak het op sy sy gelê.

Die vrou is uit die motorwrak bevry en op die toneel behandel voordat sy en die ander beseerdes na nabygeleë hospitale gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Die plaaslike owerhede was vanoggend op al drie tonele om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

Baie besige pad.

JM

Te veel motoriste bestuur soos hooligans.

Misky

Ek dink ons almal weet wat het fout gegaan met die Sasolburg ongeluk en reg van voor gebots….. padreels geld mos net vir sekere bestuurders

Grant

Wie gee nog om vir pad reels? Vandat taxis doen wat hulle wil, en niks word daaraan gedoen nie, doen die algemene publiek dit ook meer.

In my area van Gauteng was ek gister bly om eindelik ‘n metro polisie voertuig eindelik te sien, maar hy ry toe sommer ook net oor die stop straat net soos die karre voor en agter hom.

Jeanette

Nou ja die persone gaan nou in verskillende hospitale opgeneem word vir mediese behandeling. Dis vroeg in die oggend so ek glo nie die persone was onder die invloed van alkohol nie, bloot net ‘n ongeluk! So al die ongevalle kan nie geblameer word op alkohol soos die minister beweer nie nadat die verbot op alkohol ingestel is nie. Ek het Maandag ongeluk op N1 Noord gesien, Dinsdag een gesien en vanoggend nog een, wys jou maar net!