Vrou ernstig beseer in valskermsprong

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Bloemfonteinse vrou is ernstig beseer toe sy Saterdag vir die eerste keer ʼn valskermsprong gedoen het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het by die Tempe-lugmagbasis plaasgevind. “Die vrou het glo vir die eerste keer gespring en toe sy land, is sy op die grond gesleep,” het Botha gesê. “Dit is nog nie duidelik wat fout gegaan het nie.”

Toe paramedici by die toneel opdaag, het die vrou op die grond gelê in ʼn ernstige toestand. Volgens Botha het paramedici haar gestabiliseer voordat sy op ʼn trauma-draagbaar geplaas en hospitaal toe gehaas is.

Maj. Veronica Moeti, woordvoerder van die SA weermag, het aan Maroela Media bevestig dat die vrou nie aan die weermag verbonde is nie, maar ʼn lid van die publiek is. Sy het gesê die weermag het oor die naweek geen valskermspronge uitgevoer nie.

Die vrou se naam is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris de Jager ·

Uiters swak en onverantwoordelike beriggewing. In die eerste plek is die foto nie van ‘n valskerm of valskermspringer nie. Tweedens bestaan daar geen “Tempe lugmagbasis” nie. Derdens is geen vrou in so ‘n voorval “ernstig beseer” nie. Dis duidelik dat die verslaggeefster nie haar huiswerk behoorlik gedoen het nie en die berig ter wille van die sensasie geplaas is. Kry jul feite reg en praat met die regte sleutelpersone.

Phillip ·

Dankie vir jou terugvoer Chris.

Indien jy meer inligting het oor die voorval stuur dit gerus na [email protected] . Die inligting wat gepubliseer is kom direk van die nooddienste af wat gewoonlik as ‘n betroubare bron gesien kan word. Ons sal egter beslis opvolg as u voel iets is foutief.

Vriendelike groete

Phillip Bruwer (Joernalis, namens Maroela Media)

Chris de Jager ·

Die insident het by Bloemfontein Valskermklub plaasgevind. Gedurende ‘n valskermsprong het ‘n vrou tydens ‘n slegte landing haar been gebreek. As gevolg daarvan dat ons altyd uiterse sorg aan die dag lê met beserings by die klub, is nooddienste ontbied om die persoon te stabiliseer en af te voer hospitaal toe vir korrekte mediese sorg. Dit was die eerste besering by die klub vanjaar, daar was ‘n gekwalifiseerde verpleegsuster en ander noodhulp-gekwalifiseerde persone op die toneel tydens die voorval en die nooddienste wat ontbied is was binne minute op die toneel.

Gideon ·

Maroela, ek wil julle gelukwens met julle berigte- gewoonlik is julle baie vinnig met nuus, al wat my pla is dat julle soms mens se kommentare verwyder, en dan wonder ek regtig hoekom dit gebeur!

Peet Schabort ·

Gideon, “Nou pra’ jy” sit uiteen wat nie aanvaarbaar is dog ek het ook agtergekom dat jy nie iets negatief mag sê vir ‘n instansie wat Maroela Media goedgesind is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.