Vrou ernstig beseer op pad na ouma se begrafnis

Melissa Nanni (links) en haar ma, Sonja Strydom, was Donderdag in botsing betrokke waartydens Nanni ernstig beseer is. (Foto: Verskaf)

’n 29-jarige vrou het Donderdag haar ouma se begrafnis misgeloop toe sy in ’n ernstige motorongeluk in Carletonville in Gauteng betrokke was.

Melissa Nanni was op die agtersitplek van haar ma, Sonja Strydom, se Hyundai Creta toe ’n vrou in ’n Volkswagen Passat glo oor ’n stopstraat gejaag en teen hulle motor vasgeploeg het.

Die botsing het op die hoek van Tugelastraat en Onyxrylaan plaasgevind.

Nanni is per ambulans na die Sybrand van Niekerk-hospitaal vervoer waarna sy met ’n noodhelikopter na die Netcare Union-hospitaal in Alberton gevlieg is.

Sy wag tans om ’n operasie aan haar nek en linkerskouer te ondergaan wat ernstig in die ongeluk beseer is. Nanni het ook ligte beserings aan haar kop, gesig en gewrigte opgedoen.

Die Hyundai Creta waarin Melissa Nanni saam met Sonja en Barend Strydom gery het. (Foto: Verskaf)

Volgens haar pa, Sergio Nanni, het een van haar nekwerwels baie seergekry.

Sonja en haar man, Barend, wat die motor bestuur het, het ligte beserings opgedoen en was in staat om Sonja se ma, Heilie Neveling, se begrafnis by te woon.

Die Hyundai Creta waarin Melissa Nanni saam met Sonja en Barend Strydom gery het. (Foto: Verskaf)

“Dit is vir ons almal baie hartseer dat sy nie by haar ouma se begrafnis kon wees en afsluiting kry nie. Haar hart was so seer oor haar ouma se dood. Sy was baie lief vir haar,” sê Sonja.

“Ons is net dankbaar dat sy oukei is en glo sy sal gou aansterk.”

Sergio, wat ’n hegte band met sy skoonma gehad het, kon ook nie die begrafnis bywoon nie, aangesien hy hom na die ongelukstoneel gehaas en sy dogter na die hospitaal vergesel het. Dit was boonop sy verjaardag.

Die Volkswagen Passat het glo oor ’n stopstraat gejaag. (Foto: Verskaf)

Nanni se broer, ook Sergio, sê dit was ’n aardige gevoel om tydens die begrafnisdiens in die kerk te sit en die helikopter in die agtergrond te hoor wat sy suster na die hospitaal vervoer.

“Dit was ’n moeilike en emosionele situasie. Aan die een kant rou ons as familie oor die verlies van ’n geliefde ma en ouma en aan die ander kant is ons rasend van bekommernis oor my sussie. Ek dink almal was ’n bietjie in twee geskeur.

Melissa Nanni het haar ouma, Heilie Neveling, se begrafnis in Carletonville misgeloop toe sy in ’n ernstige motorongeluk betrokke was. (Foto: Verskaf)

“Ek is net bly my sussie het nie nóg seerder gekry nie.”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het bevestig dat dié nooddiens se personeel na beseerdes op die toneel omgesien het.

Volgens die Strydoms is die saak by die polisie aangemeld, maar wag hulle nog op ’n saaknommer.

Die polisie het nog nie op Maroela Media se navraag reageer nie en dit is in dié stadium onduidelik of die polisie die voorval ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Die skuldige moes darem maar baie vinnig oor daai stopstraat gejaag het as ek so na die fotos kyk.

Cherokee ·

Die berig sê niks oor die vrou in die Passat nie. Hopelik is sy okay. Dit lyk nie asof daar so kwaai slag was op passasierskajuit daarvan nie. Hoop Melissa is vinnig heeltemal gesond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.