Vrou gevonnis ná sy baba uit baarmoeder sny

court-hammer_thumbʼn Vrou wat skuldig bevind is aan moord nadat sy ’n baba uit ’n hoogswanger vrou se baarmoeder gesny het, is swaar gestraf, berig die Saturday Star.

Loretta Cook (32) is Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg¸ wat in Palm Ridge sit, tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Regter Lucy Mailula het gesê Cook kon ʼn kind aangeneem het, maar het eerder gekies om ʼn hoogswanger Valencia Behrens na haar huis te lok en haar baba uit haar baarmoeder te sny in ʼn poging om die baba te steel. Die voorval het in Januarie 2012 plaasgevind. Cook het destyds voorgegee dat sy swanger is.

Cook het onskuldig gepleit op aanklag van moord en aangevoer dat sy nie die voorval kan onthou nie. Mailula het egter gelas dat geheueverlies nie as ʼn verskoning gebruik kan word nie en dat Cook deur sielkundiges geevalueer is wat bevind het dat daar geen bewyse is dat sy geestesongesteld is nie.

“Dit is nie duidelik of Behrens verdoof was nie maar sy moes in erge pyn gewees het nadat haar maag oopgesny is en haar baarmoeder verwyder is,” het Mailula gesê.

Cook is ook aangekla van poging tot moord op die baba wat oorleef het. Sy is egter nie op die klag skuldig bevind nie aangesien die regter gesê het dit is duidelik dat Cook die baba lewendig wou hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adriana Stuijt ·

Julle weet ek wil net help – maar ek merk dikwels op dat selfs die beste skrywers in Afrikaners die twee woorde ‘lewendig’ en ‘lewend’ dikwels met mekaar verwar. Dit is ‘n maklike fout om te maak. Julle doen dit hierbo in die sin: … ” Sy is egter nie op die klag skuldig bevind nie aangesien die regter gesê het dit is duidelik dat Cook die baba lewendig wou hou. ” Die woord ‘lewendig’ in hierdie verband is nie juis nie. Die korrekte woord sou ‘lewend’ moet wees, die woord wat ‘om aan die lewe te hou’ beteken. Die woord ‘Lewendig’ beteken om die kind ‘lewenslustig’ (Engels: Lively) te hou. Klein verskilletjie, volkome uiteenlopende betekenisse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.