Vrou glo by grenspos betrap met springstof

Beitbrug-grenspos Foto: newzimbabwe.com

Beitbrug-grenspos Foto: newzimbabwe.com

ʼn Vrou is Maandag by die Beitbrug-grenspos in hegtenis geneem nadat sy glo met springstof betrap is.

“ʼn Doeanebeampte was besig met ʼn lukrake ondersoek van bagasie op ʼn bus wat van Zimbabwe na Suid-Afrika gereis het,” het Marika Muller, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, in ʼn verklaring gesê. Hulle het ʼn sak gevind wat nie ʼn naam opgehad het nie. “Een van die vroulike passasiers het gesê die sak behoort aan haar en het aan die beampte gesê daar is grondboontjies in die sak.” Die beampte het egter ʼn swart plastieksak opgespoor wat tussen die grondboontjies versteek is.

Die vrou het glo probeer vlug toe die beampte haar oor die swart plastieksak uitgevra het. “Daar was pakkies in die sak met etikette wat daarop dui dat dit mynverwant kan wees,” het Muller bygevoeg. “Die passasier en haar bagasie is na die polisiestasie by Beitbrug geneem. Daar is bevestig dat die sak 54 pakkies mynspringstof, 150 aanstekers en nege aanstekerkabels bevat het ter waarde van meer as R320 000.

“Die vrou het aan die beamptes gesê sy verkoop die springstof aan onwettige myners in Gauteng,” het Muller verduidelik.

Volgens haar is daar ʼn hele paar bondels draad wat vir springstof gebruik word, verlate gevind in die transito-gedeelte by Beitbrug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.