Vrou glo seksueel aangerand by isolasiefasiliteit

(Argieffoto)

ʼn Vrou is glo seksueel aangerand by ʼn isolasiefasiliteit in Mosselbaai in die Wes-Kaap.

Die beweerde voorval het Vrydag plaasgevind en ʼn skoonmaker by die kwarantyn- en isolasiefasiliteit is intussen deur die polisie in hegtenis geneem.

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het gesê die 20-jarige vrou was in haar kamer toe die 27-jarige verdagte glo die kamer binnegekom en haar seksueel aangerand het. “Die voorval is later by mediese personeel aangemeld en die polisie is in kennis gestel.”

Volgens Spies sal die verdagte Maandag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting.

Kwarantyn- en isolasiefasiliteite word deur die departement van openbare werke verskaf, maar nie deur die departement besit nie.

Volgens Jandré Bakker, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer en openbare werke, word fasiliteitbestuurders deur die departement aangestel om namens die departement die fasiliteite te bestuur, insluitend die verskaffing van veiligheid- en skoonmaakdienste.

“Die departement neem die bewerings baie ernstig op en gee ons volle samewerking in die ondersoek.”

Bakker het gesê die vrou is intussen deur die departement van gesondheid na ʼn ander perseel geskuif en kry die nodige ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.