Vrou glo versmoor ná sy om hulp roep

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 45-jarige vrou is dood nadat sy en haar man Woensdag by hul huis in Amanzimtoti in KwaZulu-Natal aangeval is.

Kapt. Thulani Zwane, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 11:30 in Athlonepark plaasgevind. “Die egpaar is deur twee mans, wat met messe gewapen was, aangehou,” het Zwane gesê. Die egpaar is vasgebind, waarna die mans hulle van waardevolle besittings en hul motor beroof het.

Die polisie is later na die toneel ontbied waar die vrou dood aangetref is. Volgens Zwane gaan ʼn nadoodse ondersoek gedoen word om die oorsaak van haar dood te bevestig. Daar word egter vermoed dat sy versmoor is nadat sy om hulp geroep het.

Die polisie het later die egpaar se voertuig in KwaMakhutha opgespoor terwyl twee verdagtes besig was om die gesteelde toerusting af te laai. Een van die verdagtes is in die regterbeen getref toe die polisie en verdagtes op mekaar begin skiet het. Hy is onder polisiebewaking na ʼn plaaslike hospitaal geneem.

ʼn Tweede verdagte het tydens die skietery gevlug en word steeds gesoek. Die name van die slagoffers is nog nie bekendgemaak nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord en huisbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marley ·

Nou lê die moordenaar op die belastingbetaler se onkoste in die hospitaal. Sou veel goedkoper gewees het om hom in te spit.

Drieks ·

Die regering betaal vir die misdadiger. Ons belasting betalers moet ons eie onkoste betaal na misdaad.

Charles du Plessis ·

Daar is niks verkeerd met die advertensie nie. Kyknet en die bestuur van DSTV is bang ons AFRIKANERS ( BOERE Volk ) groepeer en vorm n eenheid wat n bedreiging vir hulle is. Dus tyd dat ons weer met n boikot aksie begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.