Vrou helder oordag op Limpopo-plaas oorval

Foto: Die Spoorsnyers

Foto: Die Spoorsnyers

ʼn Vrou is Maandagoggend helder oordag op ʼn plaas buite Lephalale in Limpopo deur vier gewapende rowers oorval.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê vier verdagtes het omstreeks 10:40 die huis op die plaas Grootfontein binnegekom en Magrieta Fourie met vuurwapens aangehou. Die rowers het balaklawas gedra en het vuurwapens by hulle gehad.

Ben Engelbrecht, ʼn woordvoerder van die Spoorsnyers, ʼn private veiligheidsmaatskappy, het aan Maroela Media gesê die rowers het Fourie erg aangerand. Hulle het ook glo gedreig om ʼn kleuter wat in die huis was met ʼn mes by te kom. Hulle het kort daarna met selfone en kontant gevlug.

In teenstelling met Engelbrecht se weergawe, het Otto gesê volgens die polisie se inligting is geen beserings aangemeld nie. Daar is ook geen skote afgevuur nie, het sy gesê.

Volgens Engelbrecht was die Spoorsnyers kort ná die voorval op die toneel en het hulle die verdagtes se spore vanaf die toneel gevolg. Die verdagtes kon egter daarin slaag om in die dorp in te verdwyn aangesien die plaas baie naby aan die dorp is.

Otto het bevestig dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. ʼn Saak van gewapende roof word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa ·

Sterkte Mevrou Fourie! Aaklige ondervinding. Weet nie of dit altyd moontlik is nie, maar oorweeg buite “beams” by al jou deure om jou huis en iets wat jou in kennis stel sou iemand by jou hek verby beweeg (dalk die hek naby jou huis?). En baie lekker, maar duur – enige beweging waar jy ‘n ogie kan sit, word na jou selfoon gestuur. Enige iets wat jou kan waarsku dat iemand anders behalwe jy daar is. Baie sterkte en voorspoed op die plaas.

Annemarie ·

Dis is seker dieselfde lot wat man dood geskiet het oor die naweek. Kry versteekte alarms wat mens oral opsit en dit gaan af met beweging!

Hanna ·

Hoeveel trauma en aanvalle nog? Is ons land besig met ‘n burger oorlog??? Is die boere opsetlik ontwapen sodat hulle nie kan terug veg nie? En indien hulle wel terug veg word hulle aangekla…. my hart bloei.

Liewe lulu ·

Volksmoord, Hanna. Dit is wat dit genoem behoort te word

Johannes Meintjes ·

Simpatie. Elke soortgelyke berig is ‘n klad op SA, die regering, die landsburgers, die SAPS en ook die slagoffers se huishoudelike sekuriteitsbeplanning se naam. Elke berig van moord en doodslag is nog ‘n bekentenis van ons gebrek en versuim. Waar is ons vrywilligers in opskamers, straathoeke, nagpatrollies, inligtingsnetwerke, verbeterde GPF en buurtwag inisiatiewe, verfynde strategie vir effektiewe burgerlike beskerming, en oortuigende, gerusstellende resultate.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.