Vrou hoor haar lot ná huurmoordkomplot

Maria Ferreira voor die polisiestasie kort nadat sy in hegtenis geneem is. Foto: Valke

Maria Ferreira (53), ʼn Suid-Afrikaanse inwoner van Ponta do Ouro in Mosambiek, het Woensdag haar lot in die Nelspruit-streekhof gehoor nadat sy haar derde man wou laat vermoor het.

Ferreira is skuldig bevind aan sameswering tot moord en tot 12 jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is. Sy moet dus sewe jaar tronkstraf uitdien.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, het gesê Ferreira is sedert Maart vanjaar borgtog geweier nadat sy in hegtenis geneem is.

Maroela Media het vroeër berig Ferreira is in Witrivier in hegtenis geneem nadat sy ʼn polisiebeampte R20 000 aangebied het om haar man, Carlos Ferreira (55), te vermoor.

Die plan was dat die moord as ʼn mislukte motorkaping naby Malelane uitgevoer sou word wanneer die egpaar na Mosambiek sou terugkeer nadat hulle ʼn vriend in Witrivier besoek het.

Die Valke het ʼn lokval vir haar gestel en sy is in hegtenis geneem toe sy geld aan die beampte oorhandig het.

Dit het tydens die hofsaak aan die lig gekom dat dit Ferreira se derde huwelik is. Haar tweede man, Allen Hepburn (52), is op 5 Februarie 2012 voor hul huis in Bronkhorstspruit met ʼn mes doodgesteek terwyl hy ʼn voertuig se band omgeruil het.

Niemand is nog in verband met Hepburn se moord in hegtenis geneem nie.

Volgens Sekgotodi het die Valke nié Hepburn se moord ondersoek nie. “Die moontlikheid is ondersoek om vas te stel of Ferreira aan die moord verbind kon word, maar volgens die ondersoekbeampte was daar nie genoeg bewyse om haar te vervolg nie. Die ondersoek duur dus voort,” het sy gesê.

Haar eerste man is glo jare gelede aan kanker dood.

Lees die vorige berigte oor Maria Ferreira op Maroela Media.

Maria Ferreira

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

CAROL ·

Alma – hahahaha ek het juis gewonder of sy nie familie is van Daisey De Melker nie …..

Soekie ·

Hoe gaan die liedjie? ‘ daar skuil ‘n Daisy in elke vrou’. Hoe kan mense so koel en kalm moord reël en dink dit sal uitwerk?. Gaan my denke tebowe.

Ouvrou ·

Hoe sê hulle. Net die eerste moord is moeilik, en ek twyfel of die n eerste sou wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.