Vrou hoor Worcester-ontploffing waarin man beseer is

Bennie Koch saam met sy dogter
Benine Kluyts. Foto: Verskaf

Elmien Koch het Woensdagoggend die slag gehoor toe ʼn gastenkwa in Worcester ontplof het, maar was onbewus daarvan dat haar man, wat minute vroeër werk toe gery het, op daardie oomblik uit sy bakkie moes kruip nadat dit aan die brand geslaan het.

ʼn Gastenkwa het kort ná 6:00 in Highstraat teen ʼn paal gebots waarna dit begin brand en ʼn ontploffing tot gevolg gehad het.

Dit het ʼn reusebrand veroorsaak wat grootskaalse skade aan geboue in die onmiddellike omgewing aangerig het en verskeie strate rondom die toneel is gesluit.

Elmien se man, Bennie Koch (63), het brandwonde aan ʼn groot gedeelte van sy rug sowel as op sy hande en aan sy kop opgedoen.

“Hy is nou in teater toe sodat hulle kan probeer bepaal hoe erg die brandwonde is. Hulle sal dan ook bepaal of hy ʼn veloorplanting gaan moet kry of wat verder gedoen moet word,” het Elmien vanuit die Mediclinic Worcester aan Maroela Media gesê.

Foto: Verskaf

Volgens Elmien was haar man op pad om ʼn kollega te gaan oplaai voordat hulle na hul werkplek in Robertson sou ry.

“Ek het ʼn oproep van die Mediclinic gekry om te sê hy is daar.” Bennie is na die hospitaal gehaas en kon nog praat toe hy daar aankom en het die personeel versoek om sy vrou te bel. Sy beursie met ander items het in sy bakkie uitgebrand.

Elmien, ʼn verpleegkundige, was ook amper op pad werk toe en het minute vroeër die ontploffing by hul huis in Worcester gehoor.

“Ek het toe nog nie geweet wat dit was nie. Ek het my ná die oproep hospitaal toe gehaas en eers hier uitgevind wat gebeur het.”

Die bestuurder van die gastenkwa het glo ná die botsing teen die paal uit die vragmotor gespring toe die gas begin lek het. “As dit ʼn bietjie later gebeur het kon soveel meer mense seergekry het aangesien dit nog nie baie besig was in die dorp nie,” het Elmien gesê.

Volgens die Breedevallei-munisipaliteit is sewe geboue en twee voertuie in die brand beskadig. Twee brandbestryders het ook ligte beserings opgedoen.

Die presiese omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Estelle ·

Baie sterkte Elmien en familie, ons dink aan julle, ons glo en vertrou vir volkome genesing.

Bertie ·

Hoogstraat, nie Highstraat nie. Geen mens praat van Highstraat op Worcester nie.

Nettie ·

Ja-nee, in Worcester praat ons van “Hoogstraat” nie, ‘Highstraat’ nie. Klaarblyklik het die gastenker teen ‘n BOOM gebots en nie ‘n paal nie. Tien mense is in totaal beseer, nie net drie nie. En dit gaan reeds bietjie beter met mnr. Koch, wat nou in ‘n algemene saal en nie meer ICU is nie. Of so hoor mens maar …. soveel verskillende stories is in die omloop, dat niemand regtig eintlik kan sê nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.