Vrou in aftreeoord aangeval

Argieffoto van die Bult-aftreeoord in Bultfontein. (Foto: Facebook)

’n 67-jarige vrou is vandeesweek in haar woonstel by die aftreeoord in Bultfontein in die Vrystaat oorval en aangerand. Danielle Hellmuth, ook bekend as tannie Niennie, se arm is tydens die aanval gebreek.

Hellmuth vertel dat sy Dinsdag in die vroeë oggendure in haar woonstel by die Bult-aftreeoord wakker geskrik het toe sy “iets hoor krap het in my huis”.

Hellmuth het opgestaan en haar in ’n minderjarige aanvaller vasgeloop. “Hy was klein en maer.

“Ek het vir hom gevra: ‘Wat soek jy?’ Toe hy stilbly, vra ek: ‘Wil jy kos hê?’ Hy sê toe vir my hy wil nie kos hê nie, hy wil geld hê. Ek het vir hom gesê hier is nie geld nie. Toe begin hy my te slaan en te skop.”

Hellmuth het tydens die aanval haar telefoon gegryp om hulp te probeer ontbied. “Toe klap hy die foon dat hy daar trek.”

Sy kon egter later daarin slaag om tot in die gang buite haar woonstel te kom waar sy om hulp geskree het. Dit is tóé dat die aanvaller op die vlug slaan.

Hellmuth is ná die voorval in die Mediclinic in Welkom opgeneem waar sy sedertdien ’n operasie aan haar arm ondergaan het.

“My hele lyf pyn,” het Hellmuth Vrydagmiddag aan Maroela Media gesê. “Ek het baie seer en ek is blou.”

Carina Bezuidenhout, waarnemende bestuurder van die oord, sê die verdagte het deur Hellmuth se houtdeur toegang tot die woonstel verkry.

Bezuidenhout sê die aanval het die inwoners van die oord ongetwyfeld laat “skrik”. Daar kon volgens haar egter danksy die oord se bestaande veiligheidsmaatreëls en die plaaslike sekerheidsmaatskappy se vinnige reaksie spoedig opgetree word. “Die veiligheidskameras was deurslaggewend,” vertel sy.

Volgens Hellmuth is dit nie die eerste keer dat dié verdagte op die oord se veiligheidskamers gewaar is nie.

Bezuidenhout het intussen gesê die verdagte is Vrydagoggend in aanhouding geneem in verband met die aanval terwyl die oord se veiligheidsmaatreëls weer hersien sal word.

Die Vrystaatse polisie het egter Vrydagoggend aan Maroela Media gesê hulle dra nie kennis van die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KatjieDeKat ·

Omrede dissipline iets vd verlede is. Toe ek n kind was, sou geen normale seun, of dogter selfs, so iets Gewaag het nie. En ek het my eie kinders ook so groot gemaak. Ek kon hulle Een Kyk gegee het en Oombliklik was hulle gedrag perfek. Daar is niks fout met n goeie pak slae op sy tyd nie. That’s why i, and my generation, Were Not, and Did Not raise a bunch of entitled, violent criminals. I could without a moment’s worry about being embarrassed, introduce my children to presidents, royalty and top politicians, if the opportunity came up. Not that i would ever allow them anywhere near trash like that,but you get my point.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.