Vrou in aftreeoord aangeval

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Die Wes-Randse polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na vyf verdagtes wat ʼn 63-jarige vrou Donderdagaand by ʼn aftreeoord in Hekpoort aangeval het.

Konst. Gloria Maswanganye, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het omstreeks 20:45 by die Jewels of the Valley-aftreeoord plaasgevind.

“Die vrou het in haar sitkamer gesit en televisie kyk. Die veiligheidslig het skielik afgegaan en die honde het begin blaf,” het Maswanganye Vrydag gesê.

“Die vrou is na buite om ondersoek in te stel toe vyf mans op haar afgestorm het. Een van hulle het ʼn mes by hom gehad.”

Die vrou het terug in haar huis gehardloop en wou die veiligheidshek toetrek toe sy agterkom die hek is gebreek.

“Sy het na ʼn agterkamer gehardloop en haarself daarin toegesluit. Sy kon hoor hoe die verdagte die huis plunder. Sy het haar bure gebel en hulle het die paniekknoppie gedruk.”

Die verdagtes het in die slagoffer se wit Renault Sandero op die vlug geslaan met twee televisiestelle, twee selfone, ʼn skootrekenaar en beursie met bankkaarte.

Die polisie en Oestermoed-veiligheidsdienste het spoedig gereageer, waarna die vrou se voertuig en televisie teruggevind is. Die verdagtes kon daarin slaag om weg te kom.

Die vrou is nie tydens die voorval beseer nie.

Die Hekpoort-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

Enigiemand wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om die Hekpoort-polisie by 014 576 9100 of Stop Misdaad by 0860 010 111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sagte Teikens ·

Goeie aarde, hierdie HELDE wat almal dreig wat dan sagte teikens soos oumense en siek mense in rolstoele aanval. DANKIE tog die tannie het vinnig gedink en het die aanval oorleef. Nou is die arme mense nie eers meer in hulle eie plekkies in aftree-oorde veilig nie. Laat maak reg daardie veiligheidshek tannie .. ons is dankbaar tannie is ok!

Annie ·

Sy woon in ‘n aftree oord is daar nie veiligheishekke en wagte nie – hoe het hulle net so ingekom en ook hoe het hulle geweet sy woon alleen. Hierdie is “in house” storie.

Ada ·

Die veiligheidswagte kan ook deel van dit wees – ek vertrou niemand nie.

Erika ·

Leer niemand nie. Jy is nie Rambo om uit die huis te gaan om ondersoek in te stel nie, vernaam oumense. Dis waarvoor daar paniek knoppies is. Ek is net bly sy het nie erger seer gekry nie. Sterkte

PJC ·

Ai wat kan ń mens nog doen om mense te leer om nie uit hul huise te gaan as daar iets fout is buite nie. Hierdie kon tragiese gevolge hê.

Hanna ·

Die lafaards wat oumense aanval. Mag jul dag v afrekening gou aanbreek!

SandraF ·

Dit is gevaarlik om ondersoek in te stel, maar die veiligheidshek was klaar gebreek. As sy gesit het in die sitkamer en skielik oorval was deur die aanvallers was dit miskien ‘n ander storie! Gelukkig kon sy weghardloop en haar toesluit in die kamer en bel vir hulp.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.