Vrou in begraafplaas verkrag

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie in Mpumalanga is op die spoor van ’n man wat glo Woensdag ’n 27-jarige vrou in ’n begraafplaas in die Masoyi-gebied in Mpumalanga verkrag het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die vrou het alleen na ’n bushalte geloop om met die bus werk toe te pendel. Dit was nog donker terwyl sy na die bushalte geloop het.

“Sy het vir die polisie gesê daar het iemand voor haar geloop. Sy het gedink dit is ’n vrou wat ook op pad werk toe is.”

Volgens Hlathi het die vrou egter later gesien dit is ’n man. Die man het skielik ’n mes uitgeruk en haar na die begraafplaas gedwing. Hy het haar daar verkrag.

Hlathi sê die polisie ondersoek die saak en versoek mense om die polisie met enige inligting te help wat tot die inhegtenisneming van die man kan lei.

In ’n ander voorval in Mpumalanga is ’n 25-jarige man vasgetrek in verband met die verkragting van nóg ’n 27-jarige vrou in Vosman, digby Witbank. Die man het reeds Woensdag in die Emalahleni-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting.

Hlathi het gesê die vrou het Sondagaand by haar vriende gaan kuier en het op hul bank aan die slaap geraak.

“Die vrou het die Maandagoggend wakker geword toe sy sukkel om asem te kry. Dit het gevoel asof iemand bo-op haar sit,” vertel Hlathi. Toe sy haar oë oopmaak, het sy die man bo-op haar gesien.

Die man het sy hand oor haar mond gesit sodat sy nie om hulp kan roep nie. Hy het haar toe verkrag.

Hlathi sê die vrou kon die verkragter identifiseer waarna hy toe vasgetrek is. Hy is tans in aanhouding en gaan volgende week weer in die hof verskyn waar hy dan formeel om borgtog kan aansoek doen.

Lt.genl. Mondli Zuma, die provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, het die twee verkragtingsvoorvalle veroordeel.

“Hierdie lafhartige mans moet vroue eerder beskerm as seermaak,” sê Zuma.

Zuma doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die verkragting by die begraafplaas om sers. Nkosinathi Sindane by 072 108 9454 of die misdaadnommer by 08600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.