Vrou in bors geskiet op Noordwes-plaas

Argieffoto

ʼn Vrou is Dinsdag in die bors geskiet toe sy op ʼn plaas naby Rustenburg in Noordwes oorval is.

Die 31-jarige vrou en haar ma, ʼn vrou in haar 50’s, bly saam in die plaashuis wat in twee opgedeel is. Die vrou en haar ma het elk hul eie deur na buite.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê die dogter was vroegoggend na bewering op pad na buite. Toe sy die deur – aan haar kant van die huis – oopmaak, is sy deur ʼn onbekende aantal verdagtes gekonfronteer wat haar toe in die bors geskiet het.

Die ma het die skoot gehoor en deur die venster gekyk.

“Sy het gesien dat daar iemand buite haar dogter se deur staan. Sy het toe haar deur oopgemaak en haar honde laat uitgaan, wat die verdagte(s) laat vlug het,” sê Myburgh.

“Sy het daarna weer die honde teruggeroep en na haar dogter se deur gegaan. Sy het haar dogter op die vloer gekry en dadelik hulp ontbied.”

Die dogter is in ʼn baie ernstige toestand na ’n plaaslike hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Die voorval is omstreeks 05:00 by die Rustenburgse polisie aangemeld en ʼn saak van poging tot moord word ondersoek.

“Niks word uit die huis vermis nie en niemand is al in hegtenis geneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.