Vrou in gedwonge kwarantyn eindelik weer tuis

Elmarie van Emmenis (Foto: Verskaf)

Die vrou van Lephalale (Ellisras) in Limpopo wat positief getoets het vir Covid-19 en die naweek noodgedwonge in ʼn staatshospitaal in die provinsie opgeneem moes word, is intussen ontslaan en eindelik weer tuis.

Sy is deur die provinsiale regering gedwing om haar te laat opneem, al het sy geen simptome getoon nie en reeds twee weke lank tuis self-isolasie toegepas het.

“Dit is wonderlik om weer by die huis wees.  Ek is rustig en kalm.  Die weer is lekker en die vensters en skuifdeure staan oop,” vertel Elmarie van Emmenis Donderdag aan Maroela Media nadat sy sowat vier dae lank alleen in ’n hospitaalkamer in die MDR TB-hospitaal in Modimolle (Nylstroom) toegesluit was.

Van Emmenis moes selfs Dinsdag haar 64ste verjaarsdag in die hospitaalkamer deurbring voordat sy eindelik Woensdagoggend ontslaan kon word. Sy het weens spanning weer begin goor voel in die hospitaalkamer, maar voel nou weer beter.  “Daar hang steeds vir my ’n groot vraagteken oor hierdie hele ding.  Ek verstaan nie wat die doel daarvan was nie,” verduidelik sy nou.

Maroela Media het vroeër berig Van Emmenis (64) het op 19 Maart uit Indië na Suid-Afrika teruggekeer, waarna sy haarself dadelik geïsoleer het uit vrees dat sy moontlik aan die nuwe koronavirus blootgestel kon wees.  Sy het twee dae later matige simptome begin toon waarna sy vir Covid-19 getoets is.  Die toets het positief teruggekom en sy het in self-isolasie gebly onder behandeling van haar huisdokter.  Sy het in dié stadium nie meer simptome getoon nie.

Die departement van gesondheid in Limpopo het haar egter Saterdag uit die bloute gekontak en ingelig dat sy dadelik in die hospitaal opgeneem moet word.  Dit was na bewering op bevel van dr.  Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo.  Daar is aan haar verduidelik dat sy geen keuse in die saak het nie.

“Dit was vir my ’n skok toe hulle my bel en sê ek moet opgeneem word.  Ek het geweet dit gaan nie onder wonderlike omstandighede wees nie, maar ek het nie in my wildste drome gedink ek gaan in ’n kamer toegesluit en van vergeet word nie.”

Elmarie van Emmenis (Foto: Verskaf)

Van Emmenis vertel dat sy dieselfde dag nog in ’n hospitaalkamer toegesluit is waar spinnerakke aan die gordyne gehang het.  “Daar het ’n dooie kriek op die grond gelê.  Dit was duidelik dat die kamer nie voor die tyd skoongemaak is nie.  Ek het darem my eie ontsmettingsmiddel saamgeneem en kon my bedkassie afvee.”

Van Emmenis het die dae daarna byna geen aandag van mediese personeel gekry nie.  Daar is bloot aan haar gesê om haar eie temperatuur daagliks te neem, waarna iemand sou bel om haar temperatuur aan te teken.  Sy het ook eers die dag na haar opname ’n bord kos gekry.  Die kos was egter nie voldoende vir haar dieet as diabeet nie.  Daar is ook geen water vir haar gebring nie.

“Ek het gelukkig twee komberse, my kussing en water saamgeneem hospitaal toe.  My dogter kon vir my kos bring soos ontbytstafies, soutkoekies, droëwors, biltong en vrugte wat ek mag eet.”

Dié kos is deur ’n venster na haar aangegee.  Daar was ook nie ’n asblik in die kamer om die papiere en skille weg te gooi nie en Van Emmenis is aanvanklik geïgnoreer toe sy later vir ’n personeellid gevra het om die gemors, wat sy in ’n plastiese sak bymekaar moes maak, weg te gooi.

Daar was ook nie ʼn stoel in die kamer om op te sit nie.

Die enigste ligpunt op haar verjaarsdag was ’n melktert wat die plaaslike Spar vir haar gestuur het toe hulle van haar omstandighede in die hospitaal te hore gekom het, vertel sy laggend.

Van Emmenis is eindelik na ’n gespook deur lede van die VF Plus, die DA, AfriForum, haar huisdokters en regsverteenwoordigers toegelaat om Woensdagoggend huis toe te gaan.  Sy meen dit is danksy diegene wat druk op die departement uitgeoefen het dat sy Dinsdagmiddag aandag van hospitaalpersoneel en dokters begin ontvang het en eindelik ontslaan is.  Sy is egter ontslaan sonder om weer vir Covid-19 getoets te word.

Van Emmenis vertel dat sy vir nog twee dae in isolasie in haar huis sal bly ter wille van haar man, hoewel sy reeds ’n geruime tyd nie meer simptome toon nie.  Dit sal Vrydag drie weke wees sedert sy positief vir die nuwe koronavirus getoets het.

“Hierdie ding het my baie geleer.  Dit het net my oë weer laat oopgaan vir mense se omgee.  Daar is mense wat onverpoos gewerk het om my uit daardie kamer te kry.  Ek het ook net weer besef dat daar mense is wat uitgelewer is aan die sisteem.  Die sisteem moet verbeter.  Daar behoort na mense in só ’n situasie met liefde omgesien word.  Daar is ’n groot les hieruit te leer.

“Die Here se genade is vir my genoeg,” sluit sy af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Rodger17 ·

Dis hoe SA se staatshospitale lyk!Personeel onbevoeg om met pasiënte te werk.Hele gesondheidstelsel is in n gemors gedompel.Staan beter kans om in staatshospitale te sterf as tuis.Gesondheidstelsel in totale chaos

marius ·

Jy word gedwing om in ‘n plek gedruk te word waar jy geen sorg kry nie ? Verder moet jy op privaat sorg staatmaak en privaat regshulp inwin om jou daaruit te
kry ? Wat is die doel hiervan ? Om mense te straf ? Laat die minister van gesondheid self hierop antwoord.

Michael 1 ·

Die arogantheid van die onbevoegde klomp slaan my dronk ,onafhanklike tuis staat is al wat kan en sal werk.

Fedup ·

Ek is dankbaar sy is beter en by haar huis. Ek kan glad nie insien hoekom jy in n vuil kamer toegesluit word nie. Jy is siek, nie n criminal nie. Hulle het wragtig geen idee hoe om met mense te werk nie. Ek sal nie my voete in enige van die hospitale sit nie. Sorry. Nope. Never.

Schalk N ·

Dit is hartseer om rubrieke soos hierdie te lees.

Ek glo n melktert het nog nooit so lekker geproe nie… hoe water my mond nou.

AmY ·

Dagvaar die LUR.
Hierdie was doodeenvoudig aspris gewees.
Sy kon dood gegaan het in daai vuil kamer.
Net ‘n vraag: het sy mediese fonds of nie?
Wie kies in watter hospitaal jy opgeneem word?

Kobus ·

Dis dalk die rede hoekom baie mense verkies om nie getoets te word nie. Netnou beland hulle in een van hierdie staats hospitale en kan daar iets erger optel.

Kobus ·

Dis nou bewys! My vrou voel al vir 2 dae nie lekker nie en is vandag kliniek toe in Carletonville net om seker te maak dis nie die gevreesde CoVid 19 nie……nou word sy van Pontius tot Pilatus rond gestuur om verwysings briewe te kry sodat hulle haar kan toets? Ek Staan by my punt, die mense gaan nie hulle laat toets as hulle so rond gepoppie word nie.

Sam ·

Hierdie gebeurtenis en die een waartydens twee mediese dokters genoegsame voorsorgmaatreels getref het toe hulle hulself geisoleer het, is tipies die gevolg van die optrede van mense in posisies waarvoor hulle geheel en al onbekwaam is. Oorsee sou sulke optrede tot dissiplinere optrede teen die skuldiges gelei het: die cowboy-minister wat die aanhouding beveel het, die hospitaalpersoneel en leierzkap wat nie eers kan toesien dat ‘n pasient versorg moet word nie.
Ek is jammer, maar ek sien hierdie gebeure as niks minder as die ANC se rassisme-hand wat hy met alle mag teen Afrikaanssprekendes uitstrek nie. Hulle moet onthou dat Apartheid beeindig is, nie deur enige positiewe bydrae van hulle kant nie. Hul beurt kom.

Pieter J ·

Hierdie LUR het ń hofbevel gekry om so onnosel op te tree. Hierdie hele voorval wys nie net in watter toestand ons hospitale is nie maar ook ons howe as gevolg transformasie aanstellings. ń Meer bevoegde beampte sou nie met die beskikbare feite so ń besluit geneem het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.