Vrou in hof ná eggenoot in huisbrand sterf

Gregor Travers (Foto: Verskaf)

’n Oos-Randse vrou word nou van moord aangekla nadat haar man vroeër vandeesmaand uit hul brandende huis in Kempton Park gered en intussen in die hospitaal dood is.

Caroline Ann Travers (47) het byna twee weke gelede buite die brandende huis in Norkem Park aan ’n vrou erken dat sy die brand gestig het en gesê sy hoop haar man, Gregor Travers, brand dood.

Travers het ook glo die egpaar se twee honde in die huis toegesluit. Die honde het nie die brand oorleef nie.

Petrol is die betrokke nag op die toneel gevind.

Sers. Barbara-Anne Ferreira, polisiewoordvoerder, sê ’n vrou – die klaer in die saak – is in die vroeë oggendure na die egpaar se brandende huis in Norkem Park ontbied waar Travers haar meegedeel het dat sy die huis aan die brand gesteek het.

’n Polisiebeampte en ’n lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het by hul aankoms ’n venster gebreek en is toe die brandende huis in om Gregor te red. Gregor is met ernstige brandwonde in die gang gevind en na buite gesleep.

Hy is op die toneel deur paramedici behandel voordat hy in ’n kritieke toestand na die Tembisa-hospitaal gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Travers is op die toneel op aanklag van brandstigting en poging tot moord in hegtenis geneem terwyl brandbestryders die brand geblus het.

Die klag van poging tot moord is intussen na moord gewysig nadat Gregor dae later aan sy wonde in die hospitaal beswyk het.

Ferreira sê Travers sal na verwagting volgende week in die hof verskyn op aanklag van moord.

Verskeie mense het sedert Gregor se dood hul medelye op sosiale media betuig.

“ʼn Vriendelike, saggeaarde en sorgsame man wat baie gemis sal word,” lui een van die boodskappe op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Misky ·

Absoluut afgryslik!!! Boonop klink dit nie vir my of al haar varkies op hok is as sy op die toneel al aan iemand erken het dat sy dit gedoen het nie. Simpatie met naasbestaandes van Mnr. Travers.

Swerwer ·

Nee o genade……………daar is nie woorde om hierdie vrou te beskryf nie. Lyk my die ANC gebare en optredes het nou al oorgespoel na ander toe. Innige Simpatie en meegevoel met Mnr Gregor Travers se familie en naasbestaandes.

piet ·

Maak nie saak hoeveel kante daar is aan die storie nie, jy kan nie mense aan die brand steek nie, punt.

Annelize ·

Ja, hierdie storie kan 335 kante ook he, dit het haar nog steeds nie die reg gegee om ‘n lewe te neem nie.

neegoed ·

Dis onmenslik. Ek het gehoor sy het gestaan en kyk hoe die huis brand.
Haar man en hul troeteldiere brand in hul huis en sy staan en kyk.
Onverstaanbaar. Onverklaarbaar.
Siek

Di ·

MONSTER – daar is nie ‘n ander woord om hierdie vrou te beskryf nie. Sy is seker van lootjie getik. Vat haar tronk toe en gooi die sleutel weg. Sy is ‘n gevaar vir die samelewing. Hopelik is daar nie kinders gebore uit hierdie huwelik nie

Sandra ·

Ek meen doen wat jy wil aan iemand wat homself nog moontlik uit die huis kon kry, maar om dit aan die twee onskuldige honde te doen is onvergeeflik. Mens kan net dink in hoeveel pyn die man en die twee honde was. Ek het al net my vinger gebrand en dit is verskriklik pynlik. Sy is duidelik nie by as sy nogals erken dat sy dit gedoen het nie. Al het sy ‘n aaklige lewe onder die man gehad, en glo my ek was al daar, is die optrede nie reg nie. Want nou gaan sy in elk geval weer in ‘n “tronk” wees met moontlik geen uitkoms nie.

Chris ·

Al gehoor van iemand wat aan die brand gesteek is maar nog nie so wreed nie.

Christine ·

Net gister gelees van die jongman in Australië wat sy pragtige vrou en drie mooiste kindertjies in die motor aan die brand gesteek het. Die vroutjie kon uitkom met 98% brandwonde, maar is toe ook oorlede. Mense verander in monsters deesdae.

KatjieDeKat ·

Die honde?? Al het haar man haar mishandel op baie maniere, en sommige vroue sal wel uiteindelik so n man probeer vermoor, want hulle is al mal van depressie – Waarom die Honde?????

Elize ·

Sy sal ook op die lysie van dom kriminele kan haal. Miskien wil sy in die tronk gaan ontspan.

Chris ·

Genugtig. Sy kon darem die diere uitgelaat en paar meubelstukke uitgedra het.

Mariaan ·

Sjoe dis wreed…feite is wel dat vir sommige vroue word die marteling v hul mans net te veel…dis al rede…andersins makeer haar kop iets!

Lida ·

ń Storie het beslis 3 kante. Ek keur dit nie goed wat sy gedoen het nie maar, ek glo sy het genoeg gehad. Skeinheilig!!! niemand sal weet wat die sogenaamde sag geaarde man aan haar gedoen het nie. Verbal abuse??

AH ·

Miskien was sy mishandel, maar hoekom die arme honde ook so wreed doodmaak? Hoekom kon sy nie net haar goed vat en hom verlaat nie? Sy is ‘n monster!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.