Vrou in hof ná sy glo jok oor verkragting

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 35-jarige vrou van die Vrystaat het Donderdag in die Virginia-landdroshof verskyn nadat sy glo ʼn vals aanklag van verkragting en roof aanhangig gemaak het.

Ao. Malebo Khosana, polisiewoordvoerder, kon nie die vrou se naam aan Maroela Media bevestig nie.

Khosana het gesê die vrou van Thabong het op 17 Mei aanklagte van roof en verkragting by die Meloding-polisiestasie ingedien. Sy het beweer ʼn man het omstreeks 03:30 die oggend by haar huis ingebreek terwyl sy geslaap het en haar verkrag. Die man het daarna glo drie selfone en R600 kontant gesteel voordat hy op die vlug geslaan het.

Volgens die vrou het sy nie die man geken nie, maar sal sy hom kan identifiseer indien sy hom weer sien. Die man is drie dae later in hegtenis geneem nadat sy hom uitgewys het. Hy het intussen in die Virginia-landdroshof verskyn.

Moipone Sefohlelo, die ondersoekbeampte in die saak, het Maandag ʼn oproep van die Winburg-polisiestasie gekry waarin hy meegedeel is dat die vrou se suster ʼn aanklag van diefstal teen haar aanhangig gemaak het. Dit het aan die lig gekom dat die selfone wat die vrou oorspronklik as gesteel aangemeld het, eintlik aan haar suster behoort, maar in haar besit was. Sy het glo die storie oor die roof en verkragting opgemaak “om haar suster te straf”, het Khosana gesê.

Die sogenaamde “verkragtingslagoffer” is daarna in hegtenis geneem vir die diefstal van die selfone, dwarsboming van die gereg en die verskaffing van vals inligting onder eed.

“Ons wil ʼn beroep om gemeenskapslede doen om nie staatshulpbronne te gebruik om persoonlike kwessies op te los nie. Hierdie neiging het ʼn negatiewe invloed op dienslewering, omdat hulpbronne aangewend word vir mense wat nie regtig die diens nodig het nie, in plaas daarvan om mense te help wat ʼn dringende behoefte aan polisiedienste het,” het Khosana gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Juan Olivier ·

Sy moet teminste ‘n paar jaar hiervoor sit. Jy kan nie sulke goed opmaak en net ‘n tik op die hand kry nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.