Vrou in hof oor man se moord

Bulelwa Ndudula in die hooggeregshof in Oos-Londen (Foto: ANA-verslaggewer)

Die moordbeskuldigde Bulelwa Ndudula het Vrydag in die hooggeregshof in Oos-Londen verskyn in verband met die moord op haar man Sakhekile Ndudula in 2016 in hul huis in Cambridge-Wes.

Sy het na bewering haar man agt keer in sy bolyf geskiet. Hy het later, op dieselfde dag, in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Die hof het tydens ʼn vorige sitting gehoor een van die beweerde motiewe is jaloesie en daar is selfoonboodskappe as bewyse.

Sakhekile was ʼn senior beampte by die Oos-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling.

Die 40-jarige juffrou is steeds uit op borgtog. Haar aansoek om borgtog is in Desember 2016 in die Grahamstadse hooggeregshof goedgekeur.

Sy het vroeër aan die hof gesê haar huwelik was besig om te verbrokkel. “Hy het my alleen in die huis gelos en ná ʼn paar dae eers weer teruggekeer. Hy het gedoen net wat hy wil.”

Die egpaar het twee kinders wat tans op universiteit is.

“Hulle het nie hul pa se afsterwe goed hanteer nie en ek is bekommerd dat dit met hul studies kan inmeng,” het sy bygevoeg.

Staatsadvokaat Sakhumzi Mtsila het egter gesê Ndudula het vir die hof gelieg met teenstrydige verklarings. “Gebaseer op dit wat jy vir die hof sê, is dit duidelik dat jy lieg. Jy het vir die hof gesê die skietery het in die motorhuis plaasgevind, maar die polisie het doppies in die huis gevind. Jy het ook gesê jy was bang vir die gevaar, maar toe jy die skote gehoor het, het jy dadelik die motorhuis se deur oopgemaak – dit wys dat jy nie vir enigiets bang was nie.”

Mike Maseti, vir die verdediging, het gesê sy kliënt word geviktimiseer deur die staat en die staat het versuim om enige bewyse te bring wat sy kliënt met die moord verbind.

Die saak is tot 8 Oktober uitgestel.

Lees alle vorige berigte oor Sakhekile Ndudula op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.