Vrou in hof oor studiebeurs-‘bedrog’

Argieffoto

ʼn Werknemer van die Noord-Kaapse departement van gesondheid is in hegtenis geneem nadat sy na bewering R80 000 se beursgeld gesteel het.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, het gesê Lindiwe Cynthia Nqumashe (44) is Vrydag in hegtenis geneem en het reeds in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Volgens Nkwalase werk Nqumashe in die departement se kantoor wat daarvoor verantwoordelik is om geld na suksesvolle studiebeurs-kandidate te allokeer. Nqumashe het na bewering ekstra geld in sekere studente se universiteitsrekeninge inbetaal en dan die universiteit gekontak om hulle omtrent die “fout” in te lig. Sy het dan die universiteit versoek om die ekstra geld terug te betaal in ʼn spesifieke rekening wat sy na bewering gebruik het om die geld te verdoesel en vir haar persoonlike gebruik aan te wend.

Volgens Nkwalase het die beweerde bedrog tussen 2009 en 2014 plaasgevind en is die ekstra geld in vyf verskillende studenterekeninge by verskillende hoëronderwysinstansies inbetaal. Die Valke het in 2016 ʼn wenk oor die beweerde bedrog ontvang en ʼn ondersoek is van stapel gestuur.

“Nqumashe het in die Kimberley-landdroshof op aanklagte van bedrog en geldwassery verskyn. Sy is op borgtog van R3 000 vrygelaat en sal weer op 12 September in die hof verskyn wanneer die staat ʼn afskrif van die dossier aan die verdediging moet oorhandig,” het Nkwalase gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lida ·

Hoe ouer ek word hoe skelmer raak die mensdom. Waar kry hulle al die “skills” en hoe slaap hulle.

ken van benoni ·

Aldie kommentare bewys net weereens Jan van Riebeeck is verantwoordelik vir hierdie land se probleme!

Griki ·

Word hierdie uitbetalings nie geouditeer nie en wie is die ouditeure? Sy het hiermee weggekom vir 5 jaar en as die valke nie ‘n “wenk” ontvang het nie, sou sy seker vir die res van haar lewe hiermee weggekom het.

CHRISTA ·

Was dit dalk nie sy wat tydens haar borgtog die R14 miljoen in die student, wat nou so in die nuus is, se rekening inbetaal het nie? Dalk het die kleiner bedraggies te min vir te veel moeite geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.