Vrou in hof oor vakansieverblyf-‘slenter’

Een van verskeie sosialemediaplasings waarin mense beweer dat hulle deur Marianne Tome Roux ingedoen is. (Skermskoot: Facebook)

ʼn Vrou wat na bewering dosyne voornemende vakansiegangers mislei het met besprekings vir verblyf in gastehuise in die Suid-Kaap, is Maandagoggend borgtog in die Thembalethu-landdroshof in George geweier.

Marianne Tome Roux is verlede week in hegtenis geneem en het die naweek agter tralies by die Conville-polisiestasie in George deurgebring. Sy het vanoggend op verskeie aanklagte in die hof verskyn, onder meer diefstal, en het op al die aanklagte onskuldig gepleit.

Die saak is tot aanstaande maand uitgestel en sy bly in aanhouding.

Roux het na bewering sedert verlede jaar gereeld mense genader wat op sosiale media na vakansieverblyf in die Tuinroete gesoek het en het glo op bedrieglike wyse deposito’s en huurgeld van duisende rande in haar sak gesteek. Sedert besonderhede oor haar inhegtenisneming bekend geraak het, het dit op sosiale media gegons en het die klaers ʼn uiters aktiewe WhatsApp-groep op die been gebring.

Konst. Lindinkosi Yoko van George, die ondersoekbeampte, het die afgelope naweek onverpoos verklarings afgeneem ten spyte daarvan dat hy tans met siekteverlof is en selfs vroeër verlede week nog in die hospitaal was.

Die klaers kon vanoggend nie uitgepraat raak oor die uitstekende diens wat hulle van die beskeie konstabel ontvang het nie. Een van die klaers, Estelle Ciaglia van Kaapstad, het sonder meer begin help om al die inligting te koördineer en dit aan Yoko deur te gee.

Nog mense het sedert Vrydag landwyd sake teen Roux aanhangig gaan maak en terwyl Yoko Vrydag slegs twee dossiere gehad het, kon hy teen vanoggend die hof inlig oor minstens 12 klagte wat by ander polisiestasies ingedien is.

Ciaglia het aan Maroela Media vertel dat sy ʼn saak in Bellville aanhangig gemaak het toe sy besef dat sy deur Roux ingeloop is. Ciaglia het Roux in Februarie R4 000 as ʼn deposito vir vakansieverblyf in Desember vanjaar betaal. Soos in verskeie ander gevalle het Roux na bewering later vir Ciaglia vals bewyse dat haar geld terugbetaal is van ʼn Capitec-rekening af gestuur.

“Ons vier volwassenes en ʼn klein babatjie en twee bulterriërs sou in Sedgefield aangekom het in Desember sonder dat ons ʼn heenkome gehad het. Ek sidder as ek daaraan dink,” sê sy.

Francois Gerber van George was een van die eerste klaers wat reeds verlede jaar deur Roux genader is nadat hy sy huis as vakansieverblyf geadverteer het. Roux het glo beweer dat haar onderneming, Eden Travel & Events, vakansieverhurings doen en dat sy reeds huurders vir sy huis het.

Hy sê hy het daarop aangedring dat die vakansiegangers hom direk betaal, maar Roux het glo ʼn deposito van R2 000 vir moontlike skade gehef wat sy volgens hom later nie wou terugbetaal nie.

Nadat sy na bewering ook aan hom verskeie vals bewyse van betaling gestuur het, het hy ʼn klag teen haar aanhangig gemaak. Met die polisie by die saak betrokke het Roux glo wel die geld oorbetaal.

Die saak is toe nie verder gevoer nie totdat Gerber op sosiale media gesien het dat Ciaglia na mense soek wat soos sy ingeloop is met vakansieverblyf.

Konst. Lindinkosi Yoko, die ondersoekbeampte in die saak. (Foto: Verskaf)

Nadia Edwards van Polokwane het R7 000 in Roux se bankrekening inbetaal vir verblyf in Desember 2019, maar moes tot haar groot ontsteltenis van die eienaar van die vakansiehuis hoor dat sy nie daarvan weet nie en ook geen vooruitbetaling ontvang het nie. Edwards het aan Maroela Media gesê sy is net dankbaar dat haar gesin vroegtydig gehoor het dat hulle ingeloop is, want hulle is nege mense wat vir drie weke in Desember sou kom uitspan en voor dooiemansdeur sou aankom.

Anne Linder van Sedgefield ken Roux sedert haar kinderdae toe sy saam met Linder se dogter, Megan, op skool was. Sy sê sy wou haar nuwe vakansieverblyf verhuur en het Roux kans gegee om die verhuring te doen, maar dié het R4 800 deposito van die huurders gevra en dit na bewering nooit aan haar oorbetaal nie. Met ʼn groot gesukkel het sy later wel die helfte daarvan ontvang.

Mariana Bergman van Knysna het haar huis verlede jaar op Facebook geadverteer en is ook na bewering deur Roux genader met die belofte dat sy dit onmiddellik kan verhuur. Volgens Bergman het Elvin Waite van Port Elizabeth meer as R17 000 aan Roux betaal en vir drie weke tydens die Kerstyd in die Bergman-woning gewoon terwyl hulle elders met vakansie was.

By hul terugkeer het Bergman Roux vir haar geld gevra, maar Roux het beweer sy is ingeloop en het Bergman lank aan ʼn lyntjie gehou en glo verskeie vals bewyse van betaling aan haar gestuur. Sy het daarna glo weer foto’s van Bergman se huis aan ʼn voornemende huurder, Shane de Bruin van Pretoria, gestuur en ʼn deposito van R9 000 van hom ontvang om die huis vir Desember vanjaar te huur.

Yoko het vanmiddag op die klaers se WhatsApp-groep ʼn stemboodskap gelaat waarin hy almal vir hulle samewerking bedank. “Ek hoop dat ons hierop kan voortbou en ook in die toekoms saam kan werk,” het hy gesê. “Ek hoop dis die begin van iets groots wat ons nie alte dikwels in ons land sien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Marinda ·

Presies dieselfde storie op Uilkraal gebeur. Toe sy in hegtenis geneem is ook siek geraak en in hospitaal beland. Begin nou vir my soos n triek klink. Jy weet mos wat jy verkeerd doen. Hou op games speel. Almal kan nie jou speletjies speel nie. Dit is hardwerkende en onskuldige mense se lewens waarmee jy speel.

PaulV ·

Marinda; waarvan praat jy? Dit is die ondersoekbeampte in die saak, konstabel Yoko, wat in die hospitaal was nie die aangeklaagte nie.

Johan ·

Hierdie is die tipe toegewyde polisieman wat ons in Suid-Afrika nodig het.

Gert van Wierdapark ·

Lyk my Roux was ‘n bedrywige verhuurder met’ n kort geheue! ‘n Oranje tronkpakkie sal haar geheue sekerlik help verfris!

Gesiggie ·

Ai tog Mev… wat het jy nou uit als geleer?? n Laaaang vakansie agter tralies””

Abel ·

Ja nee wat sy moet maar sit….. verbeel jou jy maak gereed vir ñ heerlike vakansie en as jy daar opdaag weet niemand van jou nie!!!!!

Vieslik dat mens so iets aan jou medemens kan doen, en dit net oor geld! Ek sidder om te dink daar is sulke mense.

ThinusP ·

Konstabel Yoko jy is ‘n ster, baie dankie vir jou toewyding!

Wielspore ·

Baie slim vrou….. maar slim vang sy baas. Goeie werk deur die polisie, give that man a Bells.

VatVyf! ·

Uitstekend!! Goeie werk – Konst. Yoko ons het BAIE meer van jou kaliber nodig!!!

Liezel ·

Ironies dat sy by “Conville” polisiestasie aangehou word ???? …. uitstekende werk konstabel Yoko! Baie dankie, ons polisiediens kort meer sulke toegewyde personeel lede!

Stelling ·

Al weet ek dis verkeerd wat sy gedoen het moet mens nie altyd daarna kyk dat sy net kriminele intensie gehad het nie. Mense kry swaar en het deur lewe in SA geen hoop meer nie. Daar is nie meer werk nie en sy het haarself en miskien haar kinders probeer sorg voor. Sterkte aan die verdagte, ek hoop werklik jou aksies tot ander se nadeel was dit werd.

Leon Botha ·

En dan pleit sy wraggies onskuldig. Duidelike teken dat sy geen berou oor haar misdade het nie.

Moeg gesukkel ·

Dit maak my warm onder die kraag. Dieselfde het met my gebeur, en die skuldige is booking.com. Het my langnaweek betaal (R8700) om in die Kruger nasionale park te gaan bly. Net om daar aan te kom en niemand daar weet van my verblyf nie. Het booking.com geskakel, en al wat hulle te sê het is jammer, nie ons probleem nie. Wag ook nogsteeds om my geld terug te kry by hulle. Wens ek kon ‘n saak teen hulle maak.

Liamari ·

Ons hou elke jaar vakansie in daardie area. As ek net kyk na die bedrag wat ‘n klomp mense betaal vir 3 weke oor ‘n Desember vakansie, sou ek weet dat ek gescam word. Oor Desember maand is dit seker van die duurste plekke vir huur per dag. Maak altyd dubbeld seker oor die plek en die eienaars deur bietjie ekstra moeite en navraag te doen. Daar is baie vakansie scammers.

emily ·

@Stelling, Ag nee regtig, Al het jy nie geld om vir jou en jou kinders te sorg nie, Doen jy nie so iets nie. Daai mense wat die vakansie geld betaal, maak ook maar plan vir die geld.
Nee wat, wat sy gedoen het is Bedrog.
Sies ek skaam my vir jou.
Hoop geregtigheid geskied hier.

lanie ·

Geluk aan Yoko jy is die beste. Dis nie net n werk nie, dis n roeping.

Sies Marianne! ·

Kan Lindinkosi Yoko nie ook die moordenaars van ons BOERE vang nie?

WILMARI ·

Ons is ook deur haar ingedien vir n vakansie plekkie in Groot Brak vir die desember 2019. Wat nou nou het ons geen vakansie en die geld is weg.

Son, see en saffier of boggerol ·

@ Moeg gesukkel – bespreek eerder direk op die Sanparks webtuiste om enige van die Suid-Afrikaanse Nasional Parke te besoek. Dit is veilig, vinnig en gebruikersvriendelik. Of skakel hulle hoofkantoor of enige van die Sanparks satelliet kantore direk. Jy sal vinnig en doeltreffend gehelp word en ‘n ‘n bevestigingsbrief ontvang wat jou bespreekte akkommodasie duidelik aantoon en die bedrag wat jy betaal het. Jy word ook ingelig van die reels en regulasies en terme en voorwaardes van jou besoek wat duidelik op skrif uiteengesit is.

Moet nooit deur enige sogenaamde “agente” besprekings doen vir vakansies nie. Behalwe die betroubare agentskappe wat reeds ‘n goeie rekord het wat deursigtig en professioneel ‘n puik diens lewer.

Daar is deesdae te veel swendelaars wat vinnig geld wil maak. Wees uiters versigtig voordat jy jou swaar verdiende geld aan enige Jan Raps of sy Maat oorhandig. Hulle sny vinnig ‘n lyn met jou geld.

Susan ·

Is dit nie hartseer dat die konstabel so lof toegeswaai word omdat hy net sy werk doen? As jy kyk en hoor hoe die polisie hulle werk doen, verdien hierdie man ‘n medalje! Sad but true!

George in Bloem. ·

Sluit toe en gooi die sleutel weg. Sy kan nou haar eie lekker laaaaaang vakansie agter die tralies hou,nogal “all expenses paid”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.