Bulelwa Ndudula (42) is Vrydag in Tsomo in hegtenis geneem, nadat haar man, Sakhekile Ndudula, die voormalige hoof van personeel by die Oos-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, verlede maand by sy huis doodgeskiet is.
Maroela Media het vroeër berig ʼn huurder wat in die agterplaas van Sakhekile se huis in Cambridge-Wes in Oos-Londen woon, het ʼn buurman geroep toe hy sien hoe Sakhekile met sy bebloede bolyf teen sy motor in die oprit van die huis leun. Hy is verskeie kere geskiet. Sakhekile is na ʼn hospitaal gehaas, waar hy aan sy wonde beswyk het.
Sizwe Kupelo, Oos-Kaapse regeringswoordvoerder, het vroeër bevestig die oorledene was ʼn senior beampte in die kantoor van die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nancy Sihlwayi.
Nadat die polisie drie weke lank Sakhekile se raaiselagtige moord ondersoek het, het bewyse aan die lig gekom wat sy vrou die hoofverdagte in die saak gemaak het en sy is in hegtenis geneem.
Bulelwa het reeds vroeër vandeesweek in die hof verskyn en sal vandag na verwagting om borgtog aansoek doen.
Seker nie die regte manier om probleme uit te sorteer nie, vrou was baie kwaad vir hom, wonder wat was die oorsaak.