Vrou in polisiestasie doodgeskiet toe sy saak aanmeld

(Argieffoto: pixabay)

ʼn 28-jarige vrou is Maandagmiddag in die Madeira-polisiestasie in Mthatha in die Oos-Kaap deur haar man doodgeskiet toe sy ʼn saak van huishoudelike geweld teen hom aanhangig wou maak. Die man het haar glo tot by die polisiestasie agtervolg.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê terwyl die vrou die saak teen haar 42-jarige man in die polisiestasie se gemeenskapsdienssentrum aangemeld het, het hy meteens die stasie betree.

“Sonder om ʼn woord te sê, het hy op sy vrou begin skiet. Sy het net daar aan haar skietwonde beswyk,” vertel Kinana.

Die man het glo ná die skietery probeer ontsnap, maar is deur die polisie agternagesit en aangekeer. Die polisie het op sy vuurwapen beslag gelê en dit is vir ballistiese toetse gestuur.

Die man is glo ʼn veiligheidswag by ʼn bekende veiligheidsmaatskappy in Mthatha.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, die provinsiale polisiekommissaris, het die moord ten sterkste veroordeel.

“Die feit dat die verdagte die oorledene tot by die polisiestasie agtervolg het, toon ʼn opsetlike aanslag op die vrou. Ek is diep geskok.”

Ntshinga het ook die polisie vir hul goeie werk geloof om die man so vinnig aan te keer.

“Geweld teen vroue is onvergeeflik en daarom moet geregtigheid sy gang gaan.”

ʼn Saak van moord is teen die man aanhangig gemaak. Hy sal eersdaags in die Mthatha-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Dis ook al wat daar gesê word: “Ek is geskok.” Haal jou vingers uit die muurprop en begin iets omtrent die situasie doen. Ou hoedjie is nou weer stil omdat hy nie maklike teikens kan vang wat sigarette en drank verkoop nie.

Blikkies ·

Net ‘n regstelling – “Hulle is Diep Geskok” stem saam, dis nou ‘n nuwe woord vir hulle………

Daleen ·

Nee die polisie moes geloof geword het AS hulle gekeer het dat hy sy vrou reg voor hulle oe doodgeskiet het….. Nie omdat hy so vinnig aangekeer is nie hy het homself basies “gevang” deur sy vrou in ‘n polisiestasie te geskiet het.

Persheks Adri ·

Goeie genade! Wat is volgende? Groot hoed is stil deesdae en duh hulle kon hom vinnig vang, want hy was in die stasie!

Cornelius ·

Hy het sy vrou in die polisiestasie geskiet en nou word die polisie geprys vir hulle “vinnige optrede”.
Genade dit gebeur voor hulle, maar hulle moet die man agternagesit. Hulle was seker besig om KFC te eet en moes eers hulle vingers aflek voordat hulle kon “optree.”

Sandra ·

Dis erg. My vraag is hoe op aarde het hy daarin geslaag om die polisiestasie te betree met ‘n geweer? Die vrou het tot die moeilike stap oorgegaan om ‘n saak te gaan le oor geweld, ‘n “veilige” hawe betree om hulp te soek, en dit gebeur. Die polisie moet vasgevat word wat toegelaat het dat sy geskiet was in die eerste plek. Vroue wat met sulke huishoudelike geweld elke dag van hulle lewens te doen het, is te bang om dit te rapporteer. Nou het sy die moed bymekaar geskraap, en dit gebeur.

Cherokee ·

Sandra, dit is absoluut onwaarskynlik dat hy ‘die polisiestasie kon betree met ‘n geweer’. ‘n Geweer is ‘ groot en lang ding wat nie weggesteek kan word nie. Ek lees egter nêrens dat ‘n geweer gebruik is nie, en eintlik is dit onwaarskynlik.

Onnie ·

Dit wys jou net hoe min respek hy vir die polisie en die wet het. Hy was ook blykbaar nie veel gepla of iemand hom sien nie – nie eers ‘n openbare ruimte, en nogals ‘n polisiestasie, het hom afgeskrik nie. Seker omdat hy geweet het wat ons almal reeds weet, en dit is dat ons regstelsel so gemors is dat hy binnekort weer op parool vrygelaat sal word. Kriminele het meer “menseregte” as die wetsgehoorsame landsburger, en dit is die grootste probleem in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.