Vrou in rug geskiet tydens aanval op kleinhoewe

Argieffoto: Reint Dykema

Argieffoto: Reint Dykema

Die Noordwes-polisie is warm op die spoor van vier verdagtes wat Woensdagaand ʼn vrou op ʼn kleinhoewe in die Buffelspoort-omgewing naby Rustenburg in die rug en heup geskiet het.

Chris Lombard, woordvoerder van Ratel-beskermingsdienste, het aan Maroela Media gesê hulle het kort ná die voorval, omstreeks 21:00, by die toneel opgedaag en dadelik die spoor van die aanvallers begin volg. “Ons is oor die berg agter hulle aan, meer as 20 km, tot by ʼn teerpad. Volgens ooggetuies het hulle van daar in ʼn swart VW golf gevlug,” het hy gesê.

Hy het gesê nooddienste was reeds op die toneel om die vrou te behandel toe hulle daar aankom.

Volgens sers. Kealeboga Molale, woordvoerder van die polisie, was die inwoners van die huis besig om buite die huis te braai toe hulle deur die aanvallers oorval is. Die verdagtes het oor die muur wat rondom die huis is gespring om toegang tot die erf te kry. “Twee selfone is gesteel, asook ʼn Toyota Hilux-bakkie wat 500 meter van die toneel gevind is,” het Molale gesê.

Molale het gesê twee van die verdagtes was gewapen en twee skote is buite die huis en een binne die huis afgevuur. Dit is nie in hierdie stadium bekend hoe oud die vrou is wat geskiet is nie.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en huisbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hettie ·

Ag nee alweer. Wanneer gaan dit STOP!!!!! Arme vrou wat rug raak geskiet het, en hoop haar rug en heup is ok!

wil se ·

Daar is soooo baie plakkerskampe in daardie omgewing. Kan nie dink dat hul ooit die skuldiges kan kry nie. Siek verby!!!!!

pop ·

Sou die stomme vrou weggehardloop het dat sy toe in rug geskiet is. Ek sien n donker tonnel vir ons mense.

neelsie ·

As jy nie elekriese heining wil aanbring nie, koop n paar ligte met bewegings-sensors,boewe hou nie van lig nie!
n 10 watt”led” lig met sensor is nie duur om aan te koop of te laat brand nie, maklik om te installeer en effektief.

Dominique ·

Wat my die bangste en kwaadste maak, is dat jy glad nie meer in jou eie erf kan braai op enige aand nie. Slegs 2 blokke vanaf ons huis, is ‘n pa voor sy familie doodgeskiet op ‘n Vrydag aand terwyl die familie saam gekuier het. Op Vrydae aande braai my man graag. Sedert die roof so naby ons, braai ons nie meer nie, want ons lewe in vrees. En nou lees ek van nog mense wat aangeval is terwyl hulle braai….

Tamika ·

Mense. Ek is die “vrou” hier bo genoem. Net koreksie. Eerstens daar was geen hulp op of naby die toneel nie. My kerel moes my self hospitaal toe jaag. Tweedens ek sien daar is ‘n vraag of ek weg gehardloop het, nee ek het nie hulle het my en my skoon susie in die huis in gejaag en my geskiet nes ek in die huis ingekom het. Ook daar is net een skoot buite en een skoot binne afgevuur, nie twee buite nie. Daar was baie hulp van ander plaas inwoners baie vinnig op die toneel en will graag vir elk van hulle ongelooflik dankie se vir hulle spoedige optrede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.