Vrou jok glo oor ontvoering; kêrel ook vas

Berdine Jordaan. Foto: Facebook

Berdine Jordaan. Foto: Facebook

ʼn Tweede verdagte wat in hegtenis geneem is nadat ʼn vrou van Limpopo glo oor haar en haar susterskind se ontvoering gelieg het, het ʼn romantiese verhouding met die vrou.

Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het gesê Leon du Preez (34), wat ook verlede week in die hof verskyn het op aanklag van ontvoering en dwarsboming van die gereg, is die eerste verdagte, Berdine Ronel Jordaan (29), se kêrel. Die twee het na bewering saamgesweer om voor te gee Jordaan en haar susterskind is ontvoer.

Maluleke het gesê Jordaan se man het op 27 Julie ʼn klag by die polisie ingedien dat sy vrou en haar suster se 14-jarige dogter in Polokwane ontvoer is. Die Valke het die saak ondersoek en is na ʼn huis in Musina, waar hulle Jordaan en die tienermeisie in ʼn kas gekry het, waar hulle weggekruip het. Dit het aan die lig gekom dat die sogenaamde ontvoering ʼn bogstorie was en Jordaan het na bewering die meisie ontvoer.

Volgens Maluleke behoort die huis, waar Jordaan en die meisie gevind is, aan Du Preez. Hy is later ook in hegtenis geneem en het in die Polokwane-landdroshof verskyn. Beide Jordaan en Du Preez is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat en sal op 20 September weer in die hof verskyn.

Maluleke het gesê mediaberigte dat die beskuldigdes ook Jordaan se vyfjarige dogter saam met die tienermeisie ontvoer het, is onwaar. “Net die 14-jarige meisie is ontvoer,” het hy gesê. Hy het gesê die motief vir die misdaad is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Theresa ·

Waarmee hou mense hulself deesdae besig!! Sies man. Speel ‘n lekker pot tennis of gaan hardloop jou opgehoopte energie uit. Daar is heeltemal te veel tyd op hande en die ou gesegde lui: ledigheid is die duiwel se oorkussing.

Velskoen ·

Los ander mense se huweliksmaats uit. Hou op egbreek dan sal jy nie sulke moeilikheid kry nie.

Hannelie ·

Skei eerder jou man as om met liegstories vorendag te kom. Een of ander tyd haal dit jou in.

Laurika ·

Ag nee genade, dis hopeloos te veel moeite om sulke stories te moet opmaak en dan land dit jou nog in die moeilikheid ook.

Wat-ek-lees ·

Die hoofopskrif ‘jok’ verwys. Op skool het ek geleer dit is afkomstig van die engels se ‘joke’.
My HAT verklaar dit as die versagtende vorm van ‘lieg’. ‘Lieg’ weer is om met opset ‘n onwaarheid te vertel.
Laasgenoemde glo ek is hier van toepassing.

Theresa M ·

Ek stem saam. Volgens my moet die woord “jok” nie eers gebruik word nie. Wanneer jy ‘n leuen vertel “lieg” jy.

Luister ·

Ek dink nogal dit was ‘n “joke”, wel in baie slegte smaak,

noempie ·

Raak sommer vies. Die hele Polokwane was in rep en roer en almal het gesoek en gebid. O wee. Die stories wat rondgelê het. Swart BMW en verdagtes ens ens ens. Almal het elke sekonde gekyk of hulle al gekry is en wou weet wat aangaann. “Meanwhile back at the Ranch” ………………………… is ons almal “fools” gewees.

indigogirl ·

…. ‘n goeie pakslae met ‘n rottang! soos die polisie dit altyd gedoen het!

Scalla ·

Hou hulle verantwoordelik vir al die kostes wat aangegaan is deur hul liegstorie, lyfstraf moet in howe terug gebring word, dis al manier as hul dit voel.

Denise ·

Hoe vervelig kan jy wees dat jy sulke twak uitdink het die mense nie beter dinge om te doen nie!!!

Andre ·

Die storie het die hele Pietersburg op hol gehad , elkeen wat kon het help soek en baie moeite gedoen , net om n klap in die gesig te kry.Wat word daar gese van wolf wolf skreeu.

Anna-Marie ·

Jy is reg Andre, almal was op hol. Dit raak die hele gemeenskap en ek glo dit het dokter se praktyk ook negatief geraak. Dan kom die Gert van Rooyen en Joey Haarhoff se tragedie ook weer by n mens op. Dit is angswekkend wat om ons aangaan.

Louise ·

dis baie sleg en wat my kwaad maak is daar is regtig mense wat hulp nodig het.
Dan misbruik ander mense die geleentheid vir n ou bietjie aandag!
Sy behoort haar KOP in skaamte te sak, veral wanneer mens hoor van soveel vermiste kinders wat nie altyd lewend gevind word nie. Dan moet die polisie hulle kosbare tyd mors met mense wat geen BENUL het van die lewe en gevare om ons nie.
En ja stem 100% saam gee haar sommer rotang!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.