Kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, het gesê Leon du Preez (34), wat ook verlede week in die hof verskyn het op aanklag van ontvoering en dwarsboming van die gereg, is die eerste verdagte, Berdine Ronel Jordaan (29), se kêrel. Die twee het na bewering saamgesweer om voor te gee Jordaan en haar susterskind is ontvoer.
Maluleke het gesê Jordaan se man het op 27 Julie ʼn klag by die polisie ingedien dat sy vrou en haar suster se 14-jarige dogter in Polokwane ontvoer is. Die Valke het die saak ondersoek en is na ʼn huis in Musina, waar hulle Jordaan en die tienermeisie in ʼn kas gekry het, waar hulle weggekruip het. Dit het aan die lig gekom dat die sogenaamde ontvoering ʼn bogstorie was en Jordaan het na bewering die meisie ontvoer.
Volgens Maluleke behoort die huis, waar Jordaan en die meisie gevind is, aan Du Preez. Hy is later ook in hegtenis geneem en het in die Polokwane-landdroshof verskyn. Beide Jordaan en Du Preez is op borgtog van R2 000 elk vrygelaat en sal op 20 September weer in die hof verskyn.
Maluleke het gesê mediaberigte dat die beskuldigdes ook Jordaan se vyfjarige dogter saam met die tienermeisie ontvoer het, is onwaar. “Net die 14-jarige meisie is ontvoer,” het hy gesê. Hy het gesê die motief vir die misdaad is nog nie bekend nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Waarmee hou mense hulself deesdae besig!! Sies man. Speel ‘n lekker pot tennis of gaan hardloop jou opgehoopte energie uit. Daar is heeltemal te veel tyd op hande en die ou gesegde lui: ledigheid is die duiwel se oorkussing.
Los ander mense se huweliksmaats uit. Hou op egbreek dan sal jy nie sulke moeilikheid kry nie.
Skei eerder jou man as om met liegstories vorendag te kom. Een of ander tyd haal dit jou in.
Ag nee genade, dis hopeloos te veel moeite om sulke stories te moet opmaak en dan land dit jou nog in die moeilikheid ook.
Die hoofopskrif ‘jok’ verwys. Op skool het ek geleer dit is afkomstig van die engels se ‘joke’.
My HAT verklaar dit as die versagtende vorm van ‘lieg’. ‘Lieg’ weer is om met opset ‘n onwaarheid te vertel.
Laasgenoemde glo ek is hier van toepassing.