Vrou, kind (3) en huurder saam vermoor

Argieffoto: https://pixabay.com

Drie mense is dood nadat hulle Sondag in ʼn huis in Clocolan in die Vrystaat koelbloedig doodgeskiet is.

Kapt. Phumelele Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is Sondag omstreeks 20:20 na die moordtoneel ontbied waar hulle twee liggame aangetref het asook een persoon met ernstige beserings.

Dlamini het gesê ʼn 61-jarige vrou en ʼn driejarige meisie se liggame is albei met skietwonde aan hul koppe aangetref. ʼn 23-jarige man, wat skietwonde aan sy kop en bolyf opgedoen het, is in ʼn ernstige toestand op die toneel gevind. Hy is na die hospitaal gehaas waar hy later aan sy beserings beswyk het.

“Die oorledenes het glo televisie gekyk toe die 23-jarige man, wat ook op die erf bly, die huis binnegekom het saam met ʼn ander onbekende man. Die onbekende man het geld geëis by die 61-jarige vrou. Sy het hom gevra na watter geld hy verwys en gesê sy het nie geld nie. Hy het ʼn vuurwapen uitgepluk en die vrou en die driejarige wat op haar skoot gesit het geskiet,” het Dlamini gesê.

“Daarna het [die onbekende man] die 23-jarige huurder wat saam met hom in die huis ingekom het in die kop en die bolyf geskiet.”

Die verdagte word as lank en slank beskryf, tussen die ouderdom van 20 en 30. Hy kan vlot Sotho praat.

Die polisie in Clocolan het enigiemand met inligting oor die voorval aangemoedig om ao. Frikkie Rietsman by 079 490 1716 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Theresa ·

Sjoe, seker derduisendes wat lank en slank is. Niemand soek seker ernstig op so ‘n beskrywing na iemand nie…

Andrea ·

En heelwat mense kan Sotho vlot praat… Tensy dit dalk n Blanke man was? Maar ek sal my oë oophou vir hom.

Andrea van Vuren ·

Theresa dis my probleem ook. As die sosiale media net wil sê of ons vir ‘n lang slanke wit-of swartmens moet uitkyk. Dis hoekom daar so min van hulle gevang word want niemand weet waar en hoe om te soek nie.

PJC ·

Ja Theresa ek dink ook nie die beskrywing gaan maak dat die publiek of enigiemand anders die oortreder sal uitken nie. Ek sien daagliks honderde wat aan daardie beskrywing voldoen en die feit dat hy Sotho magtig is help ook nie veel as jy nie met hom ń gesprek in Sotho probeer aanknoop nie.

Oom Kalahari ·

As daar nie ‘n foto van die misdadiger beskikbaar is nie, waarom dan nie ‘n profiel skets saamstel met volledige beskrywings van lengte, slank, gewig, haar en oe kleur, haar lengte ens. Enige waardevolle inligting waar die publiek dan kan saamwerk en help. Dit was nou so ‘n onbesonne daad waar ‘n onskuldige klein kind se lewe ook geneem is. Hoop hul vind hierdie moordenaar. Daar is nou al sovele vuurwapens in verkeerde hande, want met elke huis/plaasaanval is dit die eerste items waarop hul aandring en dan verdere anargie veroorsaak.

Kellies ·

Moet nie vergeet van al die duisende vuurwapens wat uit Polisie besit verdwyn het nie!!!!

Ansa ·

En mag ons weet watter taal die slagoffers gepraat het ? Seker nie, want dan praat ons politiek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.