Vrou, kleuter oorleef byna-verdrinking

Die waterstroom waarin die kleuter beland het. (Foto: Netcare 911)

ʼn Vrou en ʼn driejarige kleuter is albei in die hospitaal opgeneem nadat hulle Saterdag in twee verskillende voorvalle byna verdrink het.

In die eerste voorval is paramedici van Netcare 911 omstreeks 09:26 ontbied na ʼn strand in Umhlanga Rocks aan die KwaZulu-Natalse kus. Shawn Herbst, woordvoerder van die nooddiens, sê volgens getuies op die toneel is ʼn 36-jarige vrou deur ʼn sterk seestroom dieper die see in gesleur.

“Die vrou is vinnig deur lewensredders gered wat haar terug na die strand gebring het. Sy is deur ʼn paramedikus op die toneel behandel voordat sy in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem is,” sê Herbst.

Ure daarna is paramedici weer na ʼn byna-verdrinking ontbied, dié keer in Kalkstraat, Krugersdorp, aan die Wes-Rand. Herbst sê paramedici het om 15:05 op dié noodoproep gereageer.

“Volgens getuies is ʼn driejarige seuntjie aangetref waar hy in ʼn stroom water dryf. ʼn Lid van die publiek het mond-tot-mond-asemhaling op die kind toegepas totdat die paramedici opgedaag en oorgeneem het.”

Herbst sê die kind kon genadiglik weer bygebring word en is daarna per helikopter na ʼn hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

PaulV ·

Johannes F en Natz; wanneer iemand byna oorleef het, is die persoon dood.

Jan Nel ·

Was dit nie vir daai koppelteken in die opskrif nie, was hierdie mense nou dood!

Lana ·

Om byna te oorleef, beteken jy is dood. Die koppelteken het nie in dié geval nie.

Jan Nel ·

Ek vermoed ek gaan sosiale media kommentaar byna oorleef.

Die opskrif lees “byna-verdrinking” NIE byna-oorlewing nie.

Lana ·

Dis verwarrend. Die woord “byna” kon net weggelaat word.
Iets soos: “Vrou, kleuter amper verdrink”.

Cherokee ·

Maroela, miskien moet julle die titel van die berig verander. Dit is geskryf dat hulle byna oorleef het. Die titel is misleidend. Hulle hèt oorleef.

Mariné Lourens ·

Dagsê Cherokee

Dankie vir jou kommentaar. Let asseblief op die koppelteken in die opskrif. Dit dui daarop dat dit nie ‘n verdrinking was nie, maar ‘n byna-verdrinking. Die vrou en die kind het dus albei die beproewings oorleef. Hoop dit klaar die verwarring vir jou op.

Groete
Mariné
nms Maroela Media

Chris du preez ·

Die opskrif sê hulle het byna verdrink maar dit oorleef. Niks fout daarmee nie. Julle wil net moan oor iets en eintlik lees julle nie die opskrif ordentlik nie

Abe ·

Chris du preez,
Ja, en hulle lees ook nie die berig nie. Alles is mooi duidelik (soos MM gewoonlik is)

Wiki ·

Mense soek altyd iets om te kritiseer, veral ons ou Afrikaanse mensies. Ek het ook die opskrif 100% reg verstaan. wees eerder bly dat al 2 oorleef het!

Marelize ·

Nabye verdrinking beteken dat iemand gered is net voor die verdrinking fataal was. Meeste is bekend met slegs die Engelse term, “near drowning”. Meeste near drowning oorlewendes het na tyd ernstige breinskade en benodig lewenslank mediese sorg.

rerig ·

plaas jul dankie se vir die redders en nie aangaan oor ‘n koppelteken nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.