Vrou klou hele ent verbete aan gekaapte voertuig

(Argieffoto: Pixabay.com)

’n Bejaarde vrou is Maandag enkele kilometer langs haar motor saamgesleep nadat sy in Edenvale in Johannesburg gekaap is. Dieselfde bende rowers het glo kort tevore op drie huise in dieselfde buurt toegeslaan.

Sers. Sharon Tsotsotso, polisiewoordvoerder, het gesê drie verdagtes het Maandag omstreeks 16:00 drie huise op die hoek van Partridge- en Glenlaan in Highway Gardens beroof.

Tydens die derde rooftog is hulle gesteur en die bende het op die vlug geslaan. Hulle het ʼn 76-jarige vrou kort daarna by die valhek van die buurt gekaap en met haar wit BMW weggejaag.

Volgens Tsotsotso het die vrou aan die motor geklou en is sy enkele kilometer ver langs die motor gesleep voordat hulle by ’n verkeerslig in Sheratonweg stilgehou en haar motor agtergelaat het. Die polisie het nie die aard van haar beserings bekend gemaak nie.

Die bende het daarna ’n wit Corsa-bakkie naby die Bedfordview-polisiestasie gekaap en die slagoffers ʼn ent verder by ʼn verkeerslig afgelaai.

Volgens Tsotsotso is dié voertuig later verlate agter ’n kerk in Meadowdale aangetref. Daar was egter geen teken van die verdagtes nie.

Niemand is nog in verband met enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vriendelike Frikkie ·

“enkele kilometer” – Een (‘n) enkele kilometer of etlike kilometers?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.