Vrou kom op Pta-sakeman se liggaam af

Lize en Ronald Moreland. Foto: Verskaf

Ronald Moreland, ʼn 46-jarige geliefde sakeman van Pretoria, se liggaam is Maandagmiddag deur sy vrou by hul huis in ʼn veiligheidskompleks in die ooste van die stad aangetref.

Larochelle Nel (24), Moreland se stiefdogter, het Donderdag aan Maroela Media gesê Moreland, wat saam met sy seun, Martin (27), hul eie IT-onderneming bedryf het, was Maandag alleen by die huis in Olympus vanwaar hy gewerk het.

“My ma, Lize (47), het omstreeks 17:45 by die huis gestop en gesien iets lyk vreemd. Die huis was donker, geen ligte was aan nie en sy kon voel iets is nie reg nie,” het Nel gesê.

“Die skuifdeur en veiligheidshek het effens oopgestaan en sy het gedink my pa is miskien op die stoep. Toe sy buite kom, het sy my pa bebloed op die grasperk aangetref… Daar was verskriklik baie bloed.”

Lize het uit na die straat gehardloop en om hulp geroep. Hul bure het haar te hulp gesnel en die polisie ontbied.

Moreland is op die toneel dood verklaar. Die gesin vermoed Moreland is verwurg of dood weens erge aanranding, maar ʼn nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

“Wat vir ons vreemd is, is dat niks uit die huis gesteel is nie. Alles was presies netjies op plek asof niemand in die huis was nie. My pa se selfoon was nog op die boonste verdieping van die huis waar sy kantoor is. Ons vermoed hy het iets of iemand opgemerk en is oorval toe hy buite was.”

Kapt. Johannes Maheso, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die polisie doen tans ʼn geregtelike doodsondersoek. “Alle inligting rakende die saak is hangend tot die uitkoms van die nadoodse ondersoek,” het hy gesê.

Nel het gesê die gesin is platgeslaan en kwaad.

“Dit maak net nie sin nie. Sy dood was sinneloos. ʼn Lewe van iemand is ontneem wat ons lewe was. My pa was die wonderlikste mens met die wonderlikste persoonlikheid. Hy was vriendelik met almal, geliefd en altyd vol grappies. Hy het dit nie verdien nie,” het sy gesê.

Moreland en Lize was vir byna 18 jaar lank in ʼn verhouding waarvan hulle meer as 15 jaar lank getroud was.

Sy begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

Buiten sy vrou, seun en dogter, laat Moreland ook sy ouers, Ansie en Allan, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Erica ·

Ai dis hartverskeurend. Dis so so Onnodig.
RIV en ons Innige Meegevoel aan alle naasbestaandes.
Erica & Alwyn Albertse
Besfeld Vervoer
KLIPHEUWEL
Kaap Provinsie

Lucretia ·

Sy seun was nie by die huis nie. Hulle het n baie hegte band gehad. Sy seun het my eerste gebel. Dit was my pa se beste vriend. Ons harte is stukkend

D V ·

Dit nog al in ‘n “Veiligheids” kompleks. Dit laat mens wonder hoe veilig is so ‘n komplaks.
Mag God julle rykliks vertroos.
Innige medelye met al die naas bestandes.

Cherokee ·

Dit wissel van kompleks tot kompleks. Daar is instansies wat plekke sekuriteit-komplekse noem bloot omdat daar ‘n boom-hek (boom gate) met ‘n een man kamertjie is, wat nie eens altyd beman is nie. Daar is plekke wat aan die beskrywing voldoen. Ek woon in ‘n plek waar besoekers deur twee ingange stap wat met vingerafdrukke geopen word en ‘n sekuriteitswag (24 uur) tussen die twee deure. Geslotebaan televisie oral in die gebou, selfs in die hysbakke. Dit is hoe hoë sekuriteit behoort te lyk.

Lucretia ·

Hierdie mense is soos ons familie. Dit was my pa se beste vriend. Vir meer as 15 jaar +. Ons harte is stukkend. Daar is soveel onbeantwoorde vrae

Sjoe ·

Ek hoop maar daar is behoorlik vingerafdrukke gevat asook bloed monsters en monsters vir wat onder sy naels aangegaan het. Beslis baie verdag, dit is beslis iemand in vertrouens posisie. Veiligheidskompleks / geen gedwonge toegang asook geen diefstal.

Koos de Meyer. ·

Moet nie vas kyk teen veiligheids komplekse nie. Daar die plekke word ook geteiken deur kriminele. Hulle is altyd een voor.

Koos ·

Begin altyd by die naaste verwante jou ondersoek. Hierdie klink na ‘n baie persoonlike aanval.

Al ·

My innige simpatie aan die naasbestaandes. Die waarheid sal wel uitkom.

Koos ·

Die naaste familie behoort te weet of die man enige vyande gehad het en in watse transaksies hy betrokke was indien enige.

Johann ·

So absoluut onnodig. Sterkte vir Allan en Ansie en die res van die familie. Ons dink aan julle.

Petro Erasmus ·

Stop asb die lelike comment is my boetie se vrou Let God be the judge en dat die Polisie hulle werk doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.