’n Vrou is Saterdagmiddag kritiek beseer toe ’n gasbottel in Berea in Johannesburg ontplof het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is na Soperweg ontbied waar ’n beseerde vrou by hul aankoms op ’n sypaadjie gelê het.
Volgens Meiring het die vrou ernstige beserings aan haar linkerbeen in die voorval opgedoen en was sy in dié stadium in ’n kritieke toestand. “Daar word vermoed dat ’n stuk van die gassilinder haar in die been getref het,” het Meiring verduidelik.
Die vrou is op die toneel behandel voordat sy na die Charlotte Maxeke-provinsiale hospitaal in die stad gehaas is vir dringende mediese behandeling.
Die nodige owerhede was op die toneel om ondersoek in te stel.