Vrou kry glo koue skouer van polisie ná beweerde mishandeling

Argieffoto

ʼn 33-jarige vrou van Johannesburg, wat glo ernstig deur haar kêrel aangerand is, beweer ʼn polisievrou het haar laat voel of sy die mishandeling verdien het en dat ʼn verskoning al is wat nodig is om die saak op te los.

Die vrou, ʼn skoonheidstegnikus wat in ʼn salon in Newtown werk, het gesê sy het verlede Sondag die saak by die polisie aangemeld. Haar gesig en dele van haar lyf het kneusplekke gehad.

Volgens haar het sy gesien die datum op haar klag is 21 Desember, alhoewel sy die saak op 2 Desember aangemeld het. Sy het die teenstrydigheid vir ʼn polisiekonstabel gewys wat bevestig het die inligting wat sy gegee het, insluitend die saaknommer, is verkeerd.

“Sy het gesê die regte saaknommer is nog nie geregistreer nie, so sy moes ʼn tydelike saaknommer uitreik sodat die verdagte in die hof kon verskyn,” het die vrou verduidelik.

Volgens haar het die konstabel vir haar gesê die 37-jarige man, wat haar kêrel was tot en met die mishandeling, sou die volgende dag op borgtog vrygelaat word.

Sy sê die vroulike konstabel wou by haar weet hoekom sy só geslaan is. “Was jy dronk? Dis dalk hoekom jou gesig só geslaan is. Het die ou nie om verskoning gevra nie?” wou die konstabel by haar weet.

Die vrou het ʼn teksboodskap vir die konstabel gewys waar die vermeende aanvaller om verskoning gevra het vir die aanranding. “Ten minste het hy om verskoning gevra,” het die konstabel glo gesê.

Die vrou beweer sy kon ook nie beskermingsbevel onderteken nie. Sy was geskok om die man die volgende dag te sien toe hy verby haar werk geloop en ʼn bier gedrink het.

“My aanvaller is my kêrel, maar nou is hy my eks, want ek wil hom nie hê ná dié aanval nie. Ek vrees vir my lewe nou dat hy op borgtog vrygelaat is.”

Die kêrel het beken dat hy in hegtenis geneem is op aanklag dat hy die vrou aangerand het. Hy het in die hof verskyn en is vrygelaat op borgtog. Hy het beweer hy het net ʼn gemaklike verhouding met die vrou gehad, maar sy het “obsessief” begin optree en dat sy onder die indruk was dat hulle in ʼn vaste verhouding was.

“Sy was nooit my meisie nie,” het die man gesê. “Ons het mekaar ontmoet en ons ding gedoen en nou is sy obsessief. Ek het haar nie geslaan nie. Sy het haarself teen die muur geslaan en nou sê sy vir almal op sosiale media ek het haar geslaan. Sy het my by die polisie aangemeld, maar dit is nie as ʼn saak van huishoudelike geweld geregistreer nie. Dit is as ʼn aanranding geklassifiseer. Ek sê nog steeds ek het haar nie geslaan nie. Sy is mal. Sy sal kry wat haar toekom. Sy het ʼn beskermingsbevel teen my bekom. Ek sal ook myself beskerm.”

Die konstabel het nog nie reageer op boodskappe van die African News Agency wat op haar selfoon gelaat is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jr ·

Dis hoekom ek se 16 days of Activism against women and children sal nie werk met sulke mense agter ons polisie toonbanke
n Man hoort nie n vrou te slaan maak nie saak wat sy “gedoen ” het nie. Draai om en loop weg. Die” drie maande kollege training werp nou “vrugte” USELESS

Jolene ·

Sjoe jy sal nou op jou tone moet dink, want jy is alleen teen hierdie vroueslaner en psigopaat. Polisie gaan jou nie help nie, ek was deur dieselfde ding met my gewese man. Hy het selfs ‘n beskermingsbevel teen mý bekom met leuens, en dan daag hy by die huis op om my verder te mishandel, en dit klink of hierdie mannetjie van jou dieselfde gaan doen. Omring jou met mense sodat hy jou nie alleen kan kry nie. Kry vir jou ‘n ordentlike boyfriend wat jou kan beskerm, vroueslaners is lafaards. Dis nie lekker nie maar jy sal nou na jouself moet kyk, polisie gaan jou nie help nie. Hulle is totaal onbevoeg, onbehulpsaam.

Kate ·

Wat nou gemaak as die vrou die polisie ontbied omdat sy aangerand was, dan daag hulle op om die “aanrander” te arresteer om dan heel geskok uit te vind dat die “aanrander” se gesig amper afgekrap is en die “aangerande vrou” n rooi merk aan haar gesig opgedoen her in die man se poging om n dronk onvergenoegde vrou van sy lyf weg te kry? Dan draai die hooggeagte polisie maarnom, klim terug in hulle voertuig want die vrou het hulle geskakel.

Nicky ·

Ek wonder hoekom hy sou verwag dit moet n saak van huishoudelike geweld wees as hulle dan nie n paartjie is nie…?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.