Vrou kry trouring terug danksy barmhartige Samaritaan

Melanie en Barry Roselt op hul troudag. (Foto: Facebook)

ʼn Vrou van Centurion kan nie haar geluk glo dat sy haar trouring teruggevind het na sy dit die naweek by ʼn restaurant verloor het nie.

Melanie Roselt, ʼn tuisblymamma van Amberfield, vertel aan Maroela Media dat sy Saterdag tussen 10:00 en 13:30 by The Barn‑restaurant by die Irene‑melkplaas in Centurion gaan eet het. “My dogtertjie, wat twee jaar oud is, het ʼn roomys geëet, maar in die hitte het dit gesmelt en ek het skoongemaak. In die proses moes my ring afgeval het.”

Die 18-karaat witgoud ring, wat haar man vir haar by NWJ gekoop het, is na raming sowat R17 000 werd. Die egpaar het in September hul tiende huweliksherdenking gevier en Roselt glo dat die waarde egter in die tien jaar toegeneem het en sy sou die ring laat herwaardeer.

Roselt (33) het die middag na sy die ring verloor het, ʼn inskrywing op Facebook gedeel waarin sy versoek dat indien iemand die ring optel, hulle haar moet kontak. “Die ring kan mens vervang, maar die sentiment is onvervangbaar,” het die inskrywing gelui.

Melanie Roselt se trouring. (Foto: Verskaf)

Die ring is intussen deur barmhartige Samaritane Wynand en Liesl Bothma opgetel, wat op hul beurt weer ʼn inskrywing op die Eks van die Ooste-blad ʼn inskrywing gemaak het oor die ring wat opgetel is. Hier het ander sosialemediagebruikers twee en twee bymekaar gesit.

“Die Bothmas moes net na ons gery het by Irene-melkplaas aangekom het,” sê Roselt.

Roselt se man, Barry, sal Maandag die ring by die Bothmas oplaai. “Ek het vir my man gesê ek wil nie eens ʼn nuwe trouring hê nie. Daar was soveel memories en sentimentele waarde aan daardie ring gekoppel.”

Wynand en Liesel Bothma. (Foto: Facebook)

Wynand Bothma vertel aan Maroela Media dat hy sy seun, ook twee, uit die kar gehelp het met hul aankoms by Irene-melkplaas en sy skoene aangetrek het. Dit is toe dat hy die blink dingetjie tussen die stof opmerk.

“Ons het die eienaars vinnig in die hande gekry danksy sosiale media. Wat vir my skokkend is, is dat dit nie die norm is nie en dat mense so verbaas is dat die ring sy pad teruggevind het. Dit was maar net die regte ding om te doen,” vertel Bothma, ʼn entrepreneur en kitaarspeler in die Sea of Green‑groep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maritza ·

Fantasies:) So dankbaar daar is nog opregte en eerlike mense daar buite

wilma ·

Gelukkig is dit ‘n eerbare persoon wat die ring opgetel het anders sou dit nooit by sy regmatige eienaar uitgekom het nie! Dankie vir u eerlikheid.

Von ·

Hoe opbeurend in vandag se dae n kleinstukkie goeie nuus raak te lees….dankie vir die pragtige eerlike daad wat n hart bly gemaak het……welgedaan

HARTSEER ·

Ek het my verloofring ook etlike jare gelede verloor/misplaas en soek dit nogsteeds met die hoop ek kry dit iewers. So bly vir jou dat joune so vinnige gevind is.

SjN ·

Dankie aan die persoon wat dit gekry het, darem een positiewe storie vir die dag.

Ena ·

Dis baie eerbaar van die Bothma’s. Mens kry waarlik nie meer sulke mense in vandag se tyd nie. Dis lekker om sulke nuus te lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.