Vrou kry werk by hospitaal na ambulans ma dood ry  

Die KwaMhlanga-hospitaal in Mpumalanga. Foto: ANA

Die KwaMhlanga-hospitaal in Mpumalanga. Foto: ANA

Gillion Mashego, LUR vir gesondheid in Mpumalanga, is gekritiseer nadat sy glo opdrag gegee het dat ʼn vrou, wie se ma deur ʼn staatsambulans doodgery is, by ʼn hospitaal as ʼn skoonmaker aangestel word.

Volgens dokumente wat African News Agency (ANA) onder oë gehad het, is Elphinah Masemola (35) begin vandeesmaand as ʼn skoonmaker by die KwaMhlanga-hospitaal aangestel waar sy ʼn salaris van R84 096 per jaar sal verdien. Masemola se aanstelling het opslae veroorsaak en daartoe gelei dat die Valke ʼn ondersoek na die saak geloods het.

Masemola se ma is in Augustus 2014 dood nadat ʼn ambulans haar in die Zakheni-nedersetting naby KwaMhlanga doodgery het. Twee van Masemola se susters is in dieselfde voorval beseer.

ANA is in besit van ʼn afskrif van ʼn e-pos wat daarop dui dat Mashego opdrag gegee het dat Masemola aangestel word. Die e-pos verduidelik ook dat Mashego ʼn projek van stapel gestuur het om ʼn huis vir die Masemola-familie te bou.

“Toe die huis op 12 Julie 2016 oorhandig is, was dit duidelik dat die kinders van die wyle me. Masemola behoeftig is. Die LUR het opdrag gegee dat die departement moet ingryp deur een van die familielede in diens te neem omdat die ma wat dood is die broodwinner was,” lui die e-pos.

Masemola wou nie Dinsdag kommentaar lewer oor haar aanstelling nie, maar het erken dat lede van die Valke haar ondervra het. “Hulle het my gevra wat by die huis gebeur het en hoe ek hierdie werk gekry het,” het sy gesê.

Kapt. Dineo Sekgotodi, provinsiale woordvoerder vir die Valke, het bevestig dat ʼn ondersoek begin is, maar het gesê niemand is nog aangekla nie. “Die ondersoek het begin nadat ons bewerings ontvang het dat die vrou onregmatig by die hospitaal aangestel is. Ons is steeds besig om verklarings af te neem,” het sy gesê.

Dumisani Malamule, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het gesê Mashego het bloot die proses aan die gang gesit nadat die departement en die Masemola-familie ʼn ooreenkoms bereik het dat die departement ʼn huis moet bou en een van die familielede in diens moet neem. Volgens Malamule het die departement baie geld gespaar deur die ooreenkoms aan te gaan, aangesien Masemola se familie die departement vir R20 miljoen sou kon dagvaar oor die ongeluk.

“Die familie het ons gevra om een van hul lede in diens te neem. Die LUR het die saak probeer beredder en wat hy gedoen het, was wettig. Ons het ʼn vakante pos geïdentifiseer en dit was nie nodig om dit te adverteer nie,” het hy gesê.

Mathews Masilela, die Nkangala-distriksvoorsitter van Cope, het gesê Masemola se pos moes geadverteer geword het sodat ander mense ook daarvoor kon aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

ore ·

Kan jy nou meer …… Het sy ook ‘n kriminele rekord? Lyk my dis al hoe hulle werk in staatsgroepe kan kry

m ·

Hierdie mense pluk n lat vir hulle gatte want hoe word iemand vir so rede aangestel. Nou gaan almal poste wil he ……. o nee kyk mens kan ma net lag vir al hierdie belaglike aanstellings.

M'Lady ·

Dis net om haar mond te snoer sodat sy nie n saak teen die LUR maak nie.

Kiepie ·

Lyk my dis nie net die Afrikaanses wat mekaar niks gun nie. Genugtig, die familie se enigste broodwinner is deur die (nalatige) optrede van ‘n amptenaar van die Dept. gedood, gun die mense hierdie klein mevallertjie. 1000de huise word jaarliks vir minder verdienstelike mense gegee en ten minste gaan sy moet werk vir haar inkomste. En wees bly hulle het nie vir die R20m opsie gegaan nie want dit sou die belastingbetaler baie meer gekos het.

Jakes ·

Edel gedagte, want sodoende word die famile kompenseerd en geen eise . Slim skuif en punte bou! Belastingbetaler dra maar die las- dan vra my vrou my hoekom is ek moeg .
Net hoë salarisskaal skoonmaker wat nog nie universiteit afgebrand het?

miss piggy ·

wat verhoed hulle in elk gevalle om nou hof toe te gaan en tog maar daardie twintig miljoentjie te eis nie?

C ·

Het die dame nie kinders wat wil studeer nie? Darem het sy nou ‘n werkie en haar salaris is onder R660 000 pj, so die regering met behulp van belasting betalers sal vir haar kinders betaal wat ‘n lekker tydjie op varsity wil he betaal. Ek is seker hul sal kwalifiseer vir gratis koshuis verblyf asook etes elke dag. Hehehehe!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.