Vrou loof beloning uit ná moord op eggenoot

Chris Botha (Foto: Verskaf)

’n Vrou van Secunda in Mpumalanga het vandeesweek ’n beloning van R50 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van verdagtes in haar man se moord.

Lara Botha se man, Chris, is verlede maand koelbloedig in ’n pizza-restaurant by die Lifestyle Centre in die dorp doodgeskiet. Niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie en die polisie het in dié stadium nog geen motief vir die moord bekend gemaak nie.

Volgens Lara het Chris (34) op 20 Mei omstreeks 18:00 sy familie se supermark toegesluit waarna hy na die ander familie-onderneming in die sentrum, Hollow Hog Pizza, oorgestap het om sy suster te help om die laaste take af te handel voordat die restaurant vir die aand sou sluit. Hollow Hog Pizza het ten tyde van die moord aflewerings gedoen gedurende die algehele landwye afsondering.

Chris en Lara Botha op hul troudag (Foto: Verskaf)

’n Voorlopige ondersoek toon dat vier verdagtes met maskers by die winkel ingestorm het waarna hulle Chris platgetrek het. Twee van die restaurant se werknemers het in die badkamer weggekruip terwyl sy sussie moes toekyk hoe die verdagtes hom twee keer in die kop skiet. Die verdagtes het nie ’n woord gedurende die voorval gesê nie en ná die skote op die vlug geslaan.

Chris is op die toneel dood verklaar.

Volgens Lara het ’n sak van Chris asook haar skoonsuster se handsak op die toonbank gestaan ten tye van die voorval. Die verdagtes het nie dit óf kontant uit die kasregister gebuit nie. Chris se selfoon is ook nie uit sy broeksak gesteel nie.

“Chris was die liefde van my lewe. Hy was regtig ’n goeie mens, welbekend en geliefd in die gemeenskap,” vertel Lara.

Die egpaar was sewe jaar getroud.

“Dit is nie asof ons gaan berusting vind wanneer iemand aangekeer is nie, maar ten minste sal ons antwoorde kry vir hierdie absolute sinnelose moord.”

Inligting rakende die voorval kan by kapt. Leon Kroucamp by 083 324 1829 of ao. Petro Bester by 082 494 8595 aangemeld word. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sandra ·

Presies wat ek gisteraand gese het toe ek dit lees. It sounds very suspicious that they took nothing that was openly available to them for the taking. Makes you wonder. And also, it is overkill to shoot him twice in the head. Sounds personal.

Remlut ·

In die dorp gaan alles oor onderduimsheid, net ‘n paar families swaai hier die septer.

Johannes Andries ·

Hoe tragies dat iemand ekstra geld moet betaal sodat ondersoek gedoen moet word na die moord. Ek se weer dalk het die tyd aan gebreek dat “Bounty hunters” gewettig word wat moordenaars en plaas aanvallers kan jag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.