Vrou medies ongeskik vir hofsaak ná man se grumoord

Polisiebeamptes besig om die beendere van Prosper Chipungare uit te grawe (Foto verskaf deur SAPD Noordwes)

Nancy Majonhi (42), wat tereg staan op aanklag van moord, se saak is in die Mogwase-landdroshof in Noordwes uitgestel vir ʼn verdere ondersoek na haar fisiese en sielkundige toestand.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê ʼn mediese verslag van ʼn hospitaal is Dinsdag aan die hof voorgelê wat bevestig dat sy medies nie geskik is om die hofverrigtinge by te woon nie. Die saak is tot 9 November uitgestel.

“Wat betref haar sielkundige evaluasie dui die verslag op haar weiering om te eet en voorgeskrewe medikasie te neem. Sy bly in die hospitaal onder streng bewaking in ʼn poging om haar gesondheid en sielkundige toestand te monitor voor haar volgende hofverskyning.”

Mamothame sê die staat hoop dat sy vinnig sal herstel sodat die aansoek om borgtog en die hofsaak kan voortgaan. Die staat is van voornemens om die borgtog teen te staan.

Maroela Media het vroeër berig Majonhi het saam met haar man, Prosper Chipungare (44) in ʼn huurkamer in Ledig naby Sun City gebly toe hulle op 28 Julie 2015 ʼn woordewisseling gehad het.

Sy het haar man glo met ʼn hamer aangeval totdat hy sy bewussyn verloor het. Sy het die slagoffer daarna met ʼn graaf opgekap en sy liggaamsdele in drie verskillende puttoilette gegooi voor sy die misdaadtoneel skoongemaak het. Sy is daarna na die Sun City-polisiestasie om hom as vermis aan te meld.

Die beskuldigde het daarna na Zimbabwe vertrek en eers in Augustus vanjaar aan haar familie en skoonfamilie bely dat sy haar man doodgemaak het. Die families het gereël om na Sun City in Suid-Afrika te kom en die vrou het haarself aan die polisie oorgegee. Sy het die drie puttoilette aan die polisie uitgewys waar sy die liggaamsdele versprei het.

Die skedel en beendere wat gevind is, is vir DNS-toetse gestuur.

“Majonhi bly in die hospitaal vir verdere evaluering voor sy weer in die hof moet verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SomeOne ·

as jy nie vir mediese parool aanvra nie, trek jy die kluts kwyt stunt, vandag is dalk nie haar dag nie, maar eendag sal sy “moet” verduidelik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.