Vrou met draad vasgebind, aan die brand gesteek

(Argieffoto: Kent Williamson)

ʼn 27-jarige man is Sondag in hegtenis geneem op aanklag van moord ná ʼn vrou se liggaam in Van Duurenstraat in Gelvandale in Port Elizabeth aan die brand gesteek is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes is omstreeks 05:50 na die toneel ontbied waar die vrou se liggaam naby ʼn stortingsterrein gevind is. “Die vrou is onherkenbaar en haar liggaam is met draad vasgebind. Haar identiteit moet nog bevestig word,” het Naidu gesê.

“ʼn Saak van ʼn vermiste 21-jarige vrou is egter vanoggend by die polisie in Gelvandale aanhangig gemaak. Die vrou is Saterdagaand omstreeks 21:00 laas gesien toe sy haar huis in Rinkhoutstraat verlaat het.”

Beamptes van die teenbende-eenheid is vanoggend omstreeks 10:00 deur ʼn taxibestuurder in Durbanweg in Korsten voorgekeer. “Hy het hulle in kennis gestel van ʼn man wat sonder ʼn hemp rondloop en bloed op sy klere en krapmerke op sy lyf het. Die verdagte is by ʼn nabygeleë hospitaal aangetref. Hy is in hegtenis geneem op aanklag van moord en verkragting.”

Items wat in die man se besit gevind is, kan moontlik verbind word met die vermiste vrou, wat vermoedelik ook die oorlede vrou is.

“Speurders is besig met die ondersoek. Die verdagte sal na verwagting Dinsdag in die Gelvandale-landdroshof verskyn.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.